Oudpres. Nelson Mandela het gisteroggend ’n prosedure ondergaan om galstene te verwyder.
Die prosedure is endoskopies gedoen, wat beteken klein gaatjies word in die buik gemaak waardeur die stene verwyder word.
Mac Maharaj, woordvoerder van die presidensie, het gistermiddag in ’n verklaring gesê die prosedure was ’n sukses. Hy het gesê toetse wat die afgelope week op die oudpresident gedoen is, het getoon hy het ’n longinfeksie en galstene.
Daar is besluit om eers die longinfeksie te behandel voordat die galstene verwyder kon word.
Galstene veroorsaak gewoonlik pyn en naarheid.
Die feit dat Mandela se dokters besluit het om die galstene nou te verwyder, dui daarop dat hulle meen sy longe was sterk genoeg om die narkose te deurstaan, het ’n dokter by navraag gesê.
Dit dui dus dalk op goeie nuus oor Madiba se gesondheid.
Die regering se pogings die afgelope week om Mandela se privaatheid te beskerm deur snoep te wees met inligting oor sy gesondheid het tot ’n vloed van bespiegeling gelei.
Terwyl geïrriteerde Twitter-gebruikers mekaar gisteroggend sleggesê het nadat iemand ’n doodsboodskap oor Mandela getwiet het, het die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) die regering daarvan beskuldig dat hy die publiek mislei oor die optrede van die media.
“Senior regeringsamptenare het probeer om misleidende verklarings oor waar mnr. Mandela is, te regverdig op grond van die ‘onverantwoordelike optrede van nuusorganisasies’.
Niks kan verder van die waarheid wees nie,” het Sanef gesê.
Die stramheid tussen die regering en die media kom nadat Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, die afgelope week by 1 Militêre Hospitaal aan joernaliste gesê het sy het Mandela daar besoek.
Dit het later geblyk Mandela is eintlik in die Mediclinic-harthospitaal elders in Pretoria.
Alle aanduidings is dat Madiba verlede Saterdag reguit van Qunu na die harthospitaal gebring is en dat hy steeds daar behandel word. Dis ondanks ’n vreemde maneuver Vrydag toe ’n konvooi voertuie en ’n mediese bussie van die harthospitaal na 1 Militêre Hospitaal gejaag het – dalk om joernaliste wat buite die harthospitaal uitgekamp het, te mislei.
Dit het egter nie die joernaliste wat nou al dae buite albei hospitale waghou, ontmoedig nie. Hoewel daar geen tekens van spesiale veiligheidsmaatreëls of hooggeplaaste besoekers by enige van die hospitale was nie, het koerant- en TV-spanne gister steeds daar gewag.
Ook by Mandela se huis in Houghton het ’n paar joernaliste gewag op tekens van lewe wat nooit gekom het nie.
Bespiegeling was daar baie.
Een gerug was dat ’n kleinseun van Madiba se inisiasie-seremonie gister uitgestel is omdat sy oupa ontslaan is en op pad is Qunu toe.
Die Mandela-familie het aan Lubabalo Ngcukana gesê dit gaan goed met die oudpresident, maar dat hy nie die seremonie vir Bambatha, Zindzi Mandela se seun, gaan bywoon nie.
Die seremonie was vir gister beplan, maar word nou vandag gehou.
Mandla Mandela, Madiba se oudste kleinkind en erfgenaam, het gesê hulle hoop hy word gou ontslaan.
“Dit is moeilik vir ons dat hy nie hier kan wees nie, maar ons verstaan die probleem met sy gesondheid, wat grootliks die gevolg is van sy ouderdom.”