Margate is sy status kwyt oor rioolvuil
2012-10-13 23:19
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die Margate-strand, ’n gesogte vakansieplek, is sy blouvlag-status kwyt nadat onverwerkte rioolafval op die strand uitgespoel het en dit nie betyds beredder is nie.
Toe Marthinus van Schalkwyk, minister van toerisme, Donderdag die 36 strande met Blouvlag-status in Suid-Afrika aankondig, was Margate nie op die lys nie.
Ted Knott, Blouvlag-koördineerder, het aan Rapport gesê die munisipaliteit het besluit om nie daarom aansoek te doen totdat hul rioolprobleem opgelos is nie.
Blouvlag-status word toegeken aan strande wat veilig en skoon is, geriewe verskaf en goeie omgewingstandaarde handhaaf.
Margate, aan die suidkus van KwaZulu-Natal, het in April reeds sy status verloor.
Die eerste tekens van rioolvuil wat op die strand uitgespoel het, is in Desember verlede jaar opgemerk en by die owerhede aangemeld. Die rioolvuil is op 28 Junie weer opgemerk en die nasionale departement van waterwese en omgewingsake het ’n brief van nie-nakoming aan die Ugu-distriksmunisipaliteit gerig.
Ezemvelo KwaZulu-Natal, die provinsiale departement van omgewingsake, het in September wéér ’n klagte by die nasionale departement ingedien oor rioolafval wat op die strand uitspoel.
Teen verlede week het Ugu nog nie daarop gereageer nie.
Edna Molewa, minister van waterwese en omgewingsake, het die afgelope week in ’n skriftelike parlementêre antwoord gesê die probleem is ’n stukkende pompaanleg by die water-afvalwerke in Margate en die strand moet gesluit word totdat die probleem opgelos is. Sy het gesê die nodige R24,6 miljoen om die pompaanleg te herstel moet uit die munisipale toelae vir infrastruktuur betaal word.
Michael Bertram, hoofbeampte van Suidkus Toerisme, het gesê van die pompe by die water-afvalwerke is reeds herstel en die strand is weer oop. Volgens Bertram wag die aanleg nog op ’n pomp uit Duitsland om die saak ten volle te beredder.