Marikana: 'Medisyneman’ laat stakers glo hulle is onsterflik

2012-08-20 05:57

Die stakende mynwerkers was gewapen met pangas, spiese, knopkieries en skerpgemaakte ysterstawe.| Foto: Felix Dlangamandla

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Geheime rituele op ’n heuwel by die Marikana-myn het die duisende stakende mynwerkers dalk die moed gegee om ’n polisiemag te bestorm wat tot die tande toe gewapen was.

Op bevel van ’n “medisyneman” het ’n groep mans soggens op die heuwel aan die buitewyke van die Nkaneng-township bymekaargekom en hul klere uitgetrek sodat hulle met kruie besprinkel kon word. Sommige mans se voorkoppe is met ’n lemmetjie gesny voordat ’n swart jel in die wonde gesmeer is. Hulle het geglo dit maak hulle onoorwinlik.

Toe veiligheidswagte van die myn se gewere glo weier toe daar Maandag op die stakende werkers gevuur is, het die werkers geglo dit bewys die rituele se krag.

“Daardie man is ongelooflik,” sê ’n jong man in Tswana oor die medisyneman. “Van die mans slaap op die koppie, want hulle glo dit is onsigbaar in die nag.”

Die stakendes het blykbaar die man se dienste ingeroep om hulle te staal vir hul stryd teen hul werkgewer, Lonmin, die derde grootste platinumverskaffer ter wêreld, asook die National Union of Mineworkers (NUM) en enigiemand anders wat in die pad staan van hul doel: ’n maandelikse salaris van R12 500.

Reeds op Vrydag 10 Augustus het meer as 3 000 rotsbooroperateurs, wat R4 000 per maand verdien deur agt uur per dag ondergronds vir platinum te boor, begin staak.

Teen Maandag is twee veiligheidslede van die myn, twee polisielede en vier mynwerkers, wat blykbaar geweier het om te staak, doodgemaak.

Drie mynwerkers is dood toe die polisie stakendes verjaag het.

Toe ons Dinsdagmiddag by Wonderkop opdaag, die township naby Marikana, was duisende stakendes om en op die koppie bymekaar.

Die militante, onder bevel van ’n lang man met ’n groen mantel, was gewapen met pangas, spiese, knopkieries en skerpgemaakte ysterstawe.

Teen Donderdagmiddag was dit duidelik die stakende werkers sal nie die heuwel verlaat nie, ondanks pleidooie vir ’n wapenstilstand deur die polisie en amptenare van NUM en Amcu (Associated Mining & Construction Union).

“As hulle ons wil doodmaak, moet hulle maar,” het een man aan die stakende werkers gesê. “Ons sal net hier weggaan as ons R12 500 kry. Die bestuur moet met ons kom praat, dan sal ons ondergronds gaan.

“Ons moenie bang wees vir die dood nie, want elkeen wat ondergronds werk, is so goed as dood. Die myn is ’n graf wat jou enige tyd kan begrawe.”

Kort voor 16:00 het die man met die groen mantel na ’n Njala van die polisie gestap, hande omhoog, en met ’n polisielid deur die venster gepraat.

Toe word rolle doringdraad tussen die polisie en die stakendes gespan.

Die mans op die heuwel het weswaarts beweeg, terwyl die gewapende impi, gelei deur die man met die groen mantel, al langs die Njala met doringdraad gestap het.

Die polisie het noordwaarts beweeg in ’n poging om die skare na ’n oop stuk veld te stuur, weg van die polisievoertuie. Eensklaps het die impi in die rigting van die polisie gedraai en gewapen met spiese, pangas en stokke op hulle afgestorm. Die polisie het rubberkoeëls gevuur, maar die impi het aangehou kom. Toe gebeur dit: Papapapapapapapapapapapa!

’n Staccato van skote van die polisie se R5-gewere. Mans wat deur die lug vlieg, hul liggame wat in ’n stofwolk land, poele bloed in die stof van Wonderkop.

Enkele minute later was 34 mans dood.

Die mans wat met spiese en pangas op die polisie afgestorm het, het talle verras.

Hoekom, as hulle duidelik geen weerstand teen die polisie kon bied nie, het hulle hul nogtans bestorm?

Dalk lê die antwoord in wat lt.genl. Elias Mawela van die polisie Vrydag op ’n mediakonferensie gesê het: “Ons het met mense te make gehad wat gelyk het asof hulle besete was, of wat geglo het koeëls sou nie ’n uitwerking op hulle hê nie.”

Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
28 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 16-26°C High level clouds. Warm. Pta: 12-22°C More sun than clouds. Mild.
Jhb: 8-18°C Morning clouds. Mild. Bfn: 8-21°C Sunny. Mild.
Dbn: 14-22°C More sun than clouds. Mild. PE: 13-23°C Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Storieman Omnibus 6

Storieman 6 van Leon Rousseau. Beskikbaar 30 April. Plaas jou voorafbestelling nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

kalahari.com se #1 topverkoperproduk

gobii se e-leser + GRATIS muurlaaier en kunsleeromhulsel nou R599, bespaar R340. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

25% op nuwe en topverkoperflieks

Kies uit gewildste titels soos Despicable Me 2, Gravity, Frozen, The Hunger Games: Catching Fire en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe boekuitreikings!

Kom loer na die opwindende boeke wat ons so pas uitgepak het. Titels sluit in David & Goliath van Malcom Gladwell, The Goldfinch van Donna Tartt en nog baie meer. Koop nou!

DVD’s vir minder as R100

Kry hierdie epiese trefferflieks vir minder as R100. Titels sluit in Frozen, Despicable Me 2, About Time, The Animal Communicator en nog baie meer. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!