Marikana: Polisie ‘het eie reëls oortree’
2012-08-18 23:49
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die meer as 400 skote wat die polisie met skerp ammunisie op betogende mynwerkers geskiet het, is teenstrydig met die opdrag in ’n amptelike memorandum aan die polisie einde verlede jaar dat slegs rubberkoeëls as ’n laaste uitweg gebruik mag word om onrus te stuit.
Die opdrag in die memorandum laat net meer vrae ontstaan oor die optrede van die polisie Donderdag waarin 34 mynwerkers doodgeskiet en meer as 78 beseer is.
Lt.genl. Elias Mawela, die nasionale afdelingskommissaris vir operasionele reaksiediens wat verantwoordelik is vir die handhawing van openbare orde, het op 20?Desember ’n memorandum uitgereik wat daarop gemik was om die polisie van bloedvergieting te weerhou in die bekamping van onrus.
Die instruksiebrief, waarvan Rapport ’n afskrif het, is landwyd op topvlak versprei en maak spesifiek melding van die geval van Andries Tatane, wat in April verlede jaar dood is nadat ’n polisie-rubberkoeël hom tydens protesoptrede in Ficksburg in die Vrystaat op kort afstand getref het.
“Die gebruik van rubberkoeëls en haelgewere moet onmiddellik gestop word,” beveel die brief.
“Minder dodelike metodes moet aangewend word om skares te beheer. Onderhandeling is steeds die eerste keuse. ’n Geleidelike reaksie soos die gebruik van skokgranate, ’n waterkanon en die 40 mm-traangas-lanseerder moet dan gebruik word.”
By Marikana het die polisie in die aanloop tot die skietery ’n waterkanon, rubberkoeëls, haelgewere, traangas en skokgranate gebruik.
“Die doel van die offensiewe handelinge is om die konflik met die minimum vlak van geweld te verminder,” het Mawela in die memorandum geskryf.
“Die mate van geweld moet proporsioneel wees tot die erns van die situasie en die bedreiging wat dit inhou,” het hy geskryf.
Nathi Mthethwa, minister van polisie, en genl. Riah Phiyega, die nasionale polisiehoof, het nie gereageer op vrae of Mawela se opdragte nog geld nie.
Albei het later die polisie se optrede verdedig.
Dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) sê sover hy bewus is, is dié bevele steeds van krag. “Tog, iets moes verander het, want die polisie gebruik geruime tyd al rubberkoeëls en haelgewere,” sê hy.
Hy wys daarop dat Mthethwa twee weke gelede in ’n toespraak in Mpumalanga gesê het hy verkies dat die polisie die waterkanon gebruik eerder as rubberkoeëls.