Marius sal net droom van sy maatjie ...
2012-09-03 05:57
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Hy het so naby daaraan gekom om sy maatjie uit sy kinderdae te vind ... en tog gaan sy droom om haar weer te sien net ’n droom bly.
Marius Strauss, wat die land die laaste weke in rep en roer gehad het met sy soektog na Maureen Engelbrecht, sy vriendinnetjie uit hul laerskooldae op Nababeep, het uiteindelik vasgestel waar Maureen haar deesdae bevind.

Maar die sprokieseinde waarop Marius (en talle romantiese harte oor die land heen) gehoop het, gaan nie realiseer nie.
Deur Maureen se suster het Marius die hartseer nuus ontvang dat sy Marius liewer nie weer wil sien nie.
“My sus is ’n vreeslike introvert en die aandag is vir haar te veel,” het Amanda Schade, die suster, aan Rapport gesê.
En soos ’n “ware jintelman” het Marius ingestem om sy jeugvriendinnetjie se wense te respekteer en haar nie teen haar sin te pla nie.

Nadat Rapport twee weke gelede oor Marius se soektog berig het, het talle lesers duim vasgehou dat Marius sy jeugliefde sal vind.
Verlede Saterdagaand, ná net meer as ’n week se soek, het Marius en Rapport ’n briefie gekry van Maureen se jonger suster Amanda.
“Die gesoek kan gestop word,” lui die brief. Amanda gesels namens haar ousus en skryf met deernis.
“Nababeep is in rep en roer vir informasie oor Maureen. Haar laerskoolfoto is in die koerante. Ek herken haar oë en haar glimlag. Haar wenkbroue wat ek altyd wou gehad het. Ek lees die artikels aanlyn. In my geestesoog stap ek saam met julle in die veld. Daar waar julle ‘afvlerkvoëltjies weer heel maak en vir tok-tokkie uit die vuur krap’. Sien ek waar jy kyk met jou oë, wat jy sien, voel in jou hart.
“Soos enige ander vrou dink ek hoe oulik die storie is. Sien ek hoe baie mense vir jou, Marius, ondersteun in jou soektog. Ek sien die goed en mooi daarin. En ek bel jou Maureen Engelbrecht en ek vra vir haar: ‘Hoe pragtig is dit nie? Ken jy hom? Onthou jy? Ek voel sommer of ek saam met jou kan onthou al was dit nie ek nie.’”
Maar Maureen kon Marius nie onthou nie.
Op versoek van Maureen en haar suster sal geen verdere inligting oor haar bekend gemaak word nie.
En Marius? Hoe voel hy?
Wel, soos die Namakwalanders sê: “Hy het geen bedrog in hom nie.”
Marius het vrede gevind en dadelik sy soektog gestaak. Uit respek vir sy eertydse maatjie.
“Ek is nie ’n kind van die wind nie, ek is nie ’n soeker wat nie vind nie. Ek het vrede,” sê Marius.