Medies styg dáárom
2012-07-15 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Marlene Malan in Kaapstad
’n Nasionale konferensie oor die koste van private mediese sorg en ’n onafhanklike kommissie om mediesefondstariewe te ondersoek, veral die miljarde rande wat lede jaarliks in die sakke van fondsadministrateurs en -makelaars stort.
Dít is waarop (onder meer) die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV) en die Suid-Afrikaanse Forum vir Private Praktisyns (SAFPP) aandring.
Dié eis kom nadat lede van Suid-Afrika se grootste mediese fonds, Discovery Health Medical Scheme, op ’n trusteevergadering gevra het vir ’n onafhanklike hersiening van die tariewe wat dié fonds jaarliks aan sy administrateur, Discovery Health, betaal.
Discovery Health het die afgelope boekjaar R3,2 miljard van sy mediese fonds ontvang vir administrasie- en bestuurstariewe.
Sy bedryfswins vir die 2010-’11-boekjaar was R1,36 miljard.
By navraag het dr. Chris Archer, voorsitter van die SAFPP, en dr. Mark Sonderup, voorsitter van die SAMV, gesê hulle stem saam daar is ’n volgehoue “onbeheerste” styging in die administrasiekoste van mediese fondse wat, volgens hulle, private gesondheidsorg in Suid-Afrika knou.
Dis nie net mediesefondslede wat die spit afbyt weens kwaai stygende bydraes nie, maar ook diensverskaffers, veral algemene praktisyns en spesialiste, sê hulle.
Archer en Sonderup sê private mediese sorg in Suid-Afrika het ’n “geldmaakskema” vir administrateurs en makelaars geword wat dikwels ook “verdagte” praktyke soos voorkeur-diensverskaffers en -ooreenkomste met praktisyns toepas.
Sonderup sê dit is onaanvaarbaar dat sowat 13% van alle uitgawes van private mediese sorg (sowat R12 miljard) die afgelope boekjaar bestee is aan administrasie.
“Dis sowat twee-derdes van wat aan spesialiste uitbetaal word en meer as dubbeld wat aan algemene praktisyns uitbetaal word. Dis nie dokters wat die skuld moet dra vir inflasie van private mediese sorg nie, dis eerder die burokrasie van mediese sorg.”
Hy meen tussen 5% en 7% vir administrasie is meer aanvaarbaar.
Prof. Christopher Joseph, oudvoorsitter van die Vereniging van Oor-, Neus- en Keelspesialiste, sê “al sê administrateurs van mediese fondse ook wat, hulle en fondsmakelaars is die grootste oorsaak van die skerp verhogings in mediesefondstariewe”.
“Die trustees van mediese fondse moet verantwoordelikheid begin neem vir die hoë koste van fondse; hulle is dit aan lede verskuldig. Maar trustees doen dit nie.
“Dis waarom lede se spaarplanne en voordele al hoe meer krimp, al betaal hulle al hoe meer.”
Volgens Archer “probeer ons al hóé lank om die minister van gesondheid te oorreed tot ’n konferensie vir alle rolspelers in die private mediese bedryf, asook vir ’n onafhanklike ondersoek na nie-gesondheidsorgkoste”.
Die SAFPP spreek in ’n verklaring ook sy misnoeë uit met die Raad op Gesondheidsorgfinansiers (RGF) wat praktisyns verantwoordelik hou vir stygende private mediese koste. Volgens die SAFPP ignoreer die RGF onder meer:
* die invloed van mediese fondse se administrasiekoste op private mediese tariewe;
* die salarisse en jaarlikse verhogings aan senior uitvoerende amptenare van mediese fondse;
* die feit dat die administrasie- en bestuurskoste van mediese fondse die tariewe wat aan chirurgiese en konsulterende spesialiste betaal word, ver oorskry.
Sonderup het aan Rapport gesê: “Anders as mediese fondse is die fondsadministrateurs ondernemings wat reuse-winste najaag; hulle genereer geld vir hul beleggers.
Een manier om meer geld te verdien, is om ‘nuwe’ produkte uit te dink onder die voorwendsel van bestuurde gesondheidsorg ... wat hulle dan weer aan mediese fondse verkwansel.
“Selfs die registrateur van die Raad op Mediese Skemas het in sy jaarverslag gesê ‘administrateurs se dienste is dikwels niks anders nie as addisionele kostevlakke met verdagte voordele vir skemas self’.”