‘Mej. SA nie swanger, want seks is verbode’
2012-07-02 07:28
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Gavin Prins en Babalwa Shota in Johannesburg
Gissings van ’n swangerskap en dat sy te “wild” is.
Maar self bly Melinda Bam (23), Mej. Suid-Afrika, vaag oor die redes vir haar besluit om haar op die nippertjie aan die Mej. Wêreld-kompetisie te onttrek.
Sy het per SMS aan Rapport gesê: “Ek sal nie vanjaar aan Mej. Wêreld deelneem nie. Geen persoonlike omstandighede het hiertoe gelei nie, maar dit is wel ’n weldeurdagte persoonlike besluit om Remona Moodley te stuur.”
Sy sê verder sy wil meer aandag skenk aan haar Thutuzela-sentrums vir verkragte vroue.
Remona Moodley (23), die eerste prinses, gaan Suid-Afrika nou verteenwoordig.
Die Mej. Wêreld-kompetisie word in Augustus in China gehou.
Sun International, eienaars van die kompetisie, hou vol dis niks skandaligs nie en dat hy Bam se privaatheid respekteer.
Maar ’n ingeligte het aan City Press, Rapport se susterkoerant, gesê Sun International het self besluit hy onttrek haar omdat sy glo ’n “wilde meisie” is.
Toe Bam gekroon is, het gerugte al die ronde gedoen dat sy kaal vir ’n manstydskrif geposeer het.
Die bron beweer Sun International het die foto’s by die tydskrif gekoop.
Toe City Press haar Donderdagaand by ’n geselligheid raakloop, het sy gesê: “Dis persoonlike redes, soos ek in my verklaring gesê het.”
Op Twitter het sy Vrydag geskryf: “Ek vergroot my geleenthede. Vertrou my oordeel.”
Die swye het aanleiding gegee tot wilde bespiegelinge op sosiale netwerke en in die media. Van swangerskap tot dat die kaalfoto’s dalk ’n verleentheid kan wees vir Suid-Afrika, word genoem.
Sue Klerck, Sun International-woordvoerder, hou voet by stuk: “Ons gaan Melinda se wense om hierdie ding privaat te hou respekteer. As dit iets onbehoorliks was, sou ons nie toegelaat het dat sy die titel behou nie.”
Klerck sê daar is niks vreemds aan Bam se onttrekking nie.
“Sy is nie swanger nie. Want dan moes sy seks gehad het. En om seks te hê moet jy ’n kêrel hê en dis teen die kompetisiereëls.”
Klerck sê Bam het Sun International se bestuur versoek om haar te onttrek en het goeie redes aangevoer. “Ons het ingevolge die Mej. SA-kompetisiereëls besluit om haar versoek toe te staan,” sê sy.