Min narkotiseurs vir opleiding én operasies
2012-07-07 23:31
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Suid-Afrika het doodeenvoudig nie genoeg dokters en spesifiek narkotiseurs om aan die behoeftes van die totale gemeenskap te voldoen nie.
So sê die Suid-Afrikaanse Vereniging van Anestetici (Sasa).
Rapport het einde April berig narkosedosente aan die Universiteit van Pretoria vrees die Steve Biko- Akademiese Hospitaal (SBAH) se narkosedepartement gaan in duie stort.
Ses dosente, die helfte van die personeel, wou in daardie stadium die SBAH-departement verlaat. Volgens dosente is die departement geknou deur verbrokkelde topbestuursverhoudinge, verslegtende akademiese en werktoestande en ’n verlies aan kernpersoneellede.
Sasa het gister by navraag gesê volgens sy kennis is daar steeds ’n kritiese tekort aan spesialis-narkotiseurs by die SBAH nadat verskeie spesialiste weens swak werkomstandighede bedank het.
Daar is ook ’n tekort aan junior dokters wat narkose toedien omdat vakante poste nie gevul word nie. “Sasa is bekommerd oor die moratorium op die vul van gesondheidsdiensposte in Gauteng. Slegs die hoof van die Gautengse gesondheidsdepartement mag toestemming gee om poste te vul.”
Volgens Sasa word daar van spesialis-narkotiseurs, wat bekend staan as “konsultante”, by opleidingsinstansies verwag om voor- en nagraadse studente op te lei, maar terselfdertyd ’n diens aan die publiek te lewer tydens operasies.
“Chirurgiese dienslewering stort in duie as geen narkosedienste beskikbaar is nie en daarom is die behoefte aan goed gekwalifiseerde narkotiseurs so hoog. Konsultante is meestal betrokke by hoogs gespesialiseerde operasies, soos hart- en breinoperasies, waar uitgebreide kennis en ervaring nodig is.”
Sasa sê dit is belangrik dat daadwerklik gepoog word om spesialiste in die staatsektor te behou.