Minister Tina se ore hou haar tuis
2012-09-22 23:13
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
’n Geheimsinnige kwaal het Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, die afgelope week ’n tweede parlementêre roskam in drie weke gespaar.
Omgekrapte lede van die parlement het aan Rapport se susterkoerant City Press gesê hulle is die afgelope week ingelig Joemat-Pettersson is vir ’n maand afgeboek weens tinnitus, ’n toestand wat beskryf word as ’n gesuis in die ore.
Dit het die minister glo verhinder om vrae te beantwoord oor drie ondersoeke teen haar deur die kantoor van adv. Thuli Madonsela, openbare beskermer. Madonsela het onlangs begin met ’n ondersoek om te bepaal of Joemat-Pettersson die etiese kode van die kabinet en die Grondwet oortree het.
Haar spandabelheid met vlugte en hotelverblyf en bewerings van ongerymdhede tydens die toekenning van ’n visserye-tender van R800 miljoen aan Sekunjalo word ook bekyk.
Dis egter nie nét Joemat-Pettersson wat asem sal ophou oor Madonsela se bevindinge nie. Die minister is ’n bondgenoot van pres. Jacob Zuma en sy herverkiesingsveldtog kan skade ly as die bevindinge kort voor die ANC se nasionale kongres in Desember in Mangaung openbaar word.
Palesa Mokomele, Joemat-Pettersson se woordvoerder, het by navraag gesê sy is vir net twee weke afgeboek weens akute brongitis.
“Sy rus nooit nie en het nog nie ’n enkele dag afgevat nie. Dit het nou sy tol geëis,” het Mokomele gesê. Volgens haar hét Joemat-Pettersson ’n oorinfeksie, maar sy is deur brongitis platgetrek.