Misdadige ANC-lede nou uitgeskop
2012-11-17 23:28
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Mandy Rossouw en Carien du Plessis
ANC-lede wat aan bedrog, diefstal of korrupsie skuldig bevind word, sal voortaan onmiddellik uit die regerende party geskors word.
Dié drastiese wysiging aan die ANC se grondwet is die afgelope naweek voorgestel in Pretoria, waar die nasionale uitvoerende komitee vergader het. Die wysiging sal waarskynlik in Desember by die ANC se nasionale kongres in Mangaung aanvaar word.
City Press, susterkoerant van Rapport, het ’n afskrif van die voorgestelde nuwe ANC-grondwet. Lede wat skuldig is aan geldwassery, of deur misdaad bevoordeel word, sal ook onmiddellik geskors word.
’n Taakspan onder leiding van Collins Chabane, minister in die presidensie gemoeid met monitering, het ook ’n klousule ingesluit om ANC-kaders wat in die regering ontplooi is, te dwing om kontrakte met die ANC te sluit.
Dit beteken hulle kan eindelik herroep word as hulle hul verpligtinge ingevolge die ANC-reëls verontagsaam.
Die hersiene grondwet het ook skuiwergate uit die weg geruim wat voorheen deur die uitgeskopte ANC-jeugleier, Julius Malema, in sy dissiplinêre verhoor ingespan is.
Dit maak daarvoor voorsiening om lede wat deur die tugkomitee skuldig bevind is, tydelik te skors hangende die uitslag van die appèlproses. Malema het dié tyd benut om sentiment teen pres. Jacob Zuma te mobiliseer.
Ingevolge die nuwe reëls mag prokureurs wat in tugverhore optree nie betaal word nie.
Hulle mag ook nie tugsake weens ander verpligtinge vertraag nie – iets wat gereeld tydens Malema se tugverhoor gebeur het.