Mulder kry peperduur vuurwa
2010-09-04 23:06
Jan-Jan Joubert in Kaapstad
Dr. Pieter Mulder, leier van die VF+, ry ’n blinknuwe vuurwa van ’n driekwart miljoen rand – en dis die belastingbetaler wat moet opdok daarvoor.
Dié spoggerige Audi Q7 ter waarde van R753 974 het die oë behoorlik laat rek toe Mulder verlede naweek daarmee opgedaag het by ’n byeenkoms van sy party se leierskap.
Rapport het verlede jaar in fyn besonderhede berig oor hoe Mulder nie, soos sy ANC-kollegas in die Zuma-regering, ’n peperduur ampsmotor of ampswoning in Kaapstad of Pretoria gekry het nie.
“Ek dink die publiek is redelik in hul kritiek teen die ministers. Die ministers het op die letter van die ministeriële handboek gegaan en gesê ‘te hel met die res’,” het Mulder verlede jaar aan Rapport gesê.
Hy het bygevoeg dat die Jeep Cherokee wat hy van sy voorganger, wyle dr. Dirk du Toit, geërf het die een of ander tyd vervang sou moes word.
Toe Rapport die afgelope week ’n navraag oor die Q7 rig, het mnr. Wouter Wessels, die adjunkminister se sekretaris, ’n omvattende antwoord verskaf, grootliks uit die ministeriële handboek.
“Die departement begroot vir ’n nuwe ampsvoertuig wanneer die bestaande voertuig die 120 000 km-lesing of ’n leeftyd van vyf jaar bereik. Hierdie beleid word deur die ministeriële handboek (hoofstuk 5, 1.2.3) bepaal.
“By 120?000?km verval die dienskontrak en begin die onderhoudskoste oploop. Die ministeriële handboek (hoofstuk 5, 1.2.3) bepaal dat ’n nuwe amptelike voertuig met ’n omvattende dienskontrak of -plan (120 000 km/vyf jaar) aangekoop moet word. Die begrote bedrag moet dan ook daarvoor gebruik word,” het Wessels verduidelik.
Die Jeep Cherokee se odometer-lesing is nou 179 572 km. Sedert Maart 2009 het die Jeep al 12 keer meganiese herstelwerk nodig gehad. Wanneer die Jeep buite werking is, moet ’n voertuig gehuur word en hierdie uitgawe hoop op as gevolg van die Jeep se gereelde meganiese probleme.
Die herstelwerk het R68 401,12 beloop. Die totale onderhoud- en herstelkoste vir die finansiële jaar 2009/2010 het ’n totaal van R186 124,22 beloop.
Dit is volgens Wessels ’n groot verleentheid as die adjunkminister nie ’n afspraak kan nakom nie omdat die motor gebreek het.
Die departement het daarop aangedring dat ’n nuwe motor met ’n nuwe dienskontrak nou in gebruik geneem moet word.
So ’n motor is die eiendom van die departement.
“Die motor behoort nie aan die adjunkminister nie, staan nie in sy motorhuis nie en word nie deur hom bestuur nie,” het Wessels uitgewys.
Die nuwe Audi Q7 het R753 974 gekos en is dus ekwivalent aan 50,3% van Mulder se jaarlikse salaris, terwyl dit volgens die ministeriële handboek tot 70% van sy salaris sou kon bedra.
Daar is wel opsionele ekstras bygevoeg ter wille van veiligheid en om te verseker dat die passasiers op lang ritte (en ook in die aand) optimaal binne die voertuig kan werk, sê Wessels.
Die blou ligte aan die voertuig is op Mulder se versoek verwyder.
- Rapport