NGV kan mediese dienste knak
2009-10-31 23:19
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
’n Onhanteerbare las op ons gesondheidsdienste.
Dis wat op ons wag as die ANC sy voorgestelde plan vir die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) – of gratis gesondheidsorg aan alle Suid-Afrikaners – gaan deurvoer.
In ’n reeks navorsingsverslae wat die maatskappy Econex van Stellenbosch saamgestel het in opdrag van die Hospitaalvereniging van Suid-Afrika (Hasa) – wat onder meer uit die Medi-Clinic-, Life- en Netcare-groep bestaan – meen dié maatskappy se ekonome dié plan gaan lei tot ’n verhoogde vraag na mediese dienste, spesifiek dié van dokters en spesialiste.
Dr. Nicola Theron van Econex wys op die toename wat daar in Amerika was toe ’n deel van die bevolking gratis mediese versekering gekry het met geen bybetalings nie.
“Die groep wat geen bybetalings gemaak het nie, het ’n dokter gemiddeld 4,55 keer per jaar besoek, in vergelyking met slegs 2,73 besoeke deur dié wat ’n 95%-bybetaling moes doen. Dit dui daarop dat die vraag gestimuleer kan word deur gesondheidsversekering aan almal te gee.
“En dit kan opwaartse druk plaas op die algehele besteding aan gesondheidsdienste.”
Sy sê daar is nog bitter min besonderhede oor die administratiewe eise en kompleksiteit wat so ’n plan van die staat gaan vereis.
Luidens die Econex-verslae gaan Suid-Afrika, met sy gebrek aan kundigheid, sukkel om die plan binne vyf jaar ingestel te kry. In party ontwikkelde lande het dit 20 jaar geduur om so ’n plan te vestig.
“As die NGV, soos voorgestel, beoog om dienste beskikbaar te stel volgens behoefte, pleks van die vermoë om te betaal, is al oplossing om so ’n versekering aan die gang te hou grootskaalse kruissubsidiëring deur individue wat kán betaal vir gesondheidsorg, teenoor dié wat dit nie kan bekostig nie.”
Dít gaan ’n geweldige bykomende geldelike las op betalende werkgewers en werknemers, persoonlike belasting en staatsfinansiering plaas.
Nie-betalers gaan hul neuse begin optrek vir swakker verplegingsdienste en op dieselfde gehalte van diens aandring as die rykes in die samelewing – dus nie klinieksusters nie, maar dokters en spesialiste. Ook nie enige dokter nie – wel private dokters, teenoor openbare klinieke.
Luidens die verslae is die algemene ontevredenheid met ons openbare gesondheidsorg reeds so groot dat selfs die armstes van die armes sê hulle bly liewer siek as om van ’n openbare kliniek gebruik te maak. Daarby maak selfs lae inkomstegroepe alreeds van private sorg gebruik.
- Rapport