"Net ons geloof hou ons hier"
2012-12-01 23:59
In die Ficksburg-omgewing aan die Lesotho-grens is daar vyf boere wat vasbyt ná ’n vlaag van plaasmoorde wat 15 ander boergesinne laat trek het.
“Ons wat hier is, is kluisenaars. Ons is te bang om uit ons huise te gaan,” het die 38-jarige Hennie Vermooten van die plaas Sekonyella die afgelope week aan Rapport gesê.
Vermooten se oupagrootjie het hul plaas in die 1920’s gekoop.
Hy is die vierde geslag wat daar boer. Vermooten se pa, Pieter (58), is in 2007 koelbloedig doodgeskiet toe hy sy huis binnegestap het.
“My pa was ’n baie goeie skut, maar die aand van sy moord was die vuurwapen in die kluis toegesluit. As dit nie aan jou hand vasgeplak is nie, beteken dit absoluut niks,” sê hy.
Sedert sy pa se dood hou hy nie ’n kluis, geld of vuurwapens op sy plaas nie en hy verkondig dit oral.
“Baie boere sê ek soek moeilikheid, maar hulle (misdadigers) sal my uitlos omdat ek niks het wat hulle lok nie.
“Daai ouens sit ’n paar dae lank in die berge en hou ons roetines dop. As hy jou wil kom uithaal, kan jy niks doen om dit te keer nie. Net die liewe Vader en ons geloof hou ons nog hier. Jy bereik ’n punt waar jy rustig raak en jou vel al hoe dikker.”
Hy sê plaasmoorde raak almal, want sou hy vermoor word, sal sy vrou die plaas verkoop en hul werkers sal sonder werk wees.
“Dis ’n bose kringloop,” sê hy.
Hy het die laaste jare al sy kleinvee verkoop, want dit word aanhoudend gesteel.
Hy het ’n elektriese heining om sy plaashuis en skuur gespan. Daar is ligte bo-op sy dak wat snags sy hele erf belig.
’n Veiligheidswag patrolleer elke aand die erf.
Kapt. Phumelelo Dhlamini, plaaslike polisiewoordvoerder, sê benewens verlede Saterdag se plaasmoord naby Ficksburg waarin die Brit Christopher Preece (54) wreed doodgesteek is, was daar die afgelope maand nog vier ander voorvalle in die Ficksburg-omgewing.
’n Boer se vrou is ná ’n aanval in die hospitaal oorlede en in die ander drie voorvalle is boere in rooftogte aangeval.