Nkandla: Bewys dit, pres. Zuma
2012-11-19 06:49
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Andrew Trench, Jeanne van der Merwe en Athandiwe Saba
Daar is geen verband op pres. Jacob Zuma se woning by Nkandla geregistreer soos hy die afgelope week in die parlement gesê het nie.
Terwyl Zuma se verduideliking oor wie betaal het vir die Nkandla-huise al hoe meer vrae laat ontstaan, weier die polisie boonop om bewyse te lewer dat Zuma se eiendom ooit tot ’n nasionale sleutelpunt verklaar is (lees berig hiernaas).
Dít terwyl opgraderings, wat volgens Rapport se inligting meer as R200?miljoen beloop, volgens Thulas Nxesi, minister van openbare werke, ingevolge die wet op nasionale sleutelpunte gedoen is.
’n Sigbaar ontstelde Zuma het die afgelope week in die parlement gekap na kritiek dat hy op korrupte wyse deur die opgraderings by Nkandla verryk is. Hy het gesê sy familie het self vir die huise betaal.
“Ek het besluit om my huis uit te brei en het meer as een keer meer rondawels aangebou. Nie net die rondawels nie, ek het ook ’n heining om die huis gebou. En ek het die bank geskakel en ek is steeds besig om die verband op die eerste fase van my huis te betaal,” het Zuma gesê.
Maar Rapport kon geen openbare rekords opspoor wat Zuma se bewering staaf dat daar ’n verband op Nkandla geregistreer is nie.
Die grond waarop die president se huis staan, behoort aan die Ingonyama-trust, waarvan koning Goodwill Zwelithini die hoof is.
Rapport het die rekords opgespoor van die eiendom se titel-akte: deel 27 van reserwe 19 van standplaasno. 15839.
Die titelakte beskryf die Ingonyama-trust as die eienaar. Daar is geen aanduiding dat ’n verband op die eiendom geregistreer is nie.
Belinda Benson, eiendomsbestuurder van die Ingonyama-trust, het bevestig die titelakte- rekords wat Rapport opgespoor het, is dié van Zuma se woning.
“Daar is geen verband op daardie gedeelte, soos dit tans staan nie. Of dit geregistreer is of nie, en of dit nog in die proses is om geregistreer te word, en of die president besluit het om ’n verband op ’n ander eiendom te registreer, weet ons nie,” het sy gesê.
Volgens Benson is die Ingonyama-trust verantwoordelik daarvoor om dokumentasie aan die oordragprokureurs en banke beskikbaar te stel wanneer ’n verband geregistreer word op ’n eiendom wat deur die trust besit word.
Sy sê Zuma kon moontlik die ontwikkeling gefinansier het deur middel van ’n verband op ’n ander eiendom. Dit is ook moontlik dat ’n derde party ’n verband kon uitgeneem het om ontwikkelings te finansier op grond wat aan die Ingonyama-trust behoort.
Maar hulle sou daarvan geweet het as ’n verband uitgeneem is op trustgrond.
Mac Maharaj, die president se woordvoerder, kon geen lig werp op die tergende teenstelling tussen die president se woorde en beskikbare dokumentasie nie.
Maharaj het ontvangs van Rapport se vrae hieroor erken, maar Vrydag gesê hy kan nie so vinnig kommentaar lewer nie. Hy was ook nie seker wanneer hy die vrae sou kon antwoord nie.
’n Soektog op WinDeed – ’n erkende aanlyn-databasis – wys daar is twee verbande namens Zuma geregistreer, maar nie een is in Nkandla nie.
Bruce Myburgh, ’n eiendomspesialis by Myburgh-prokureurs in Pretoria, sê: “Mense kan nie ’n verband uitneem op grond wat nie aan hulle behoort nie. Slegs die persoon of instansie wat by die aktekantoor as die titeleienaar geregistreer is, kan ’n verband op so ’n eiendom uitneem.”
Hy sê dit is ook van toepassing op eiendomme wat in ’n trust is.
Die DA se parlementêre leier, Lindiwe Mazibuko, sê as die president die parlement “willens en wetens” mislei het, kan hy vervolg word. “As die president doelbewus die parlement en Suid-Afrikaners mislei het, kan hy nie vertrou word om die land te lei nie,” sê sy.