'Nou wil ek lewe!'
2012-08-13 11:25
Karin Burger in Melkbosstrand
Lindie Stander (36) het in die rehabilitasiesentrum aan baie mense briewe geskryf. Ook aan haar pa.
Sy was net vyf toe hy selfmoord gepleeg het.
“Ek word wakker op die bank. Daar is blou en rooi ligte wat op die mure dans,” skryf sy.
“Daar’s
baie geraas. Ek dink Mamma skree Pappa se naam. Hulle breek die deur
oop en ek hardloop onder almal deur. Pappa hang aan ’n tou.
“Tot
vandag toe het ek nog nooit vir hom kwaad geword daaroor nie,” sê sy
waar sy by haar ma, Linda Louw, in Melkbosstrand kuier.
Die afgelope jaar het sy drie keer probeer om selfmoord te pleeg, want sy “wou en kon net nie meer aangaan nie”.
“Dit
was nie om aandag te trek nie. Met die laaste poging het die
hospitaalpersoneel my letterlik in ’n hok gehou, want ek het vir hulle
gesê as ek die kans kry, maak ek die job klaar.”
Maar die Lindie wat nou praat, is vol lewenslus en glo sy is toegerus vir die toekoms.
“Ek wil nou lééf. Ek weet die Here is lief vir my. Ek is klaar met alkohol. Ek het selfs ’n afskeidsbrief aan drank geskryf.”
Haar
eie stryd rus haar toe om ander mense met bipolêre gemoedsteurnis te
help, nadat sy self ’n tyd lank die verkeerde medikasie gebruik het.
Dié kwaal, waarsku sy, raak nie net mense wie se kinderjare so rof was soos hare nie.
Toe sy sewe was, is sy twee jaar lank gemolesteer, sê sy, en sluk die trane terug.
“Dit
was ’n familielid aan my stiefpa se kant. Ek was ’n regte rabbedoe en
wou saam met die seuns speel. Hy het voorwerpe in my opgedruk en gesê as
ek iemand daarvan vertel, mag ek nie weer saam met hulle speel nie.
“Agterna het ek my bloedbevlekte onderklere begrawe, want ek was te bang iemand kry dit.”
Dit
was vuil en seer. Toe sy op 21 die moed het om haar ma te vertel, het
sy haar nie geglo nie. “Ek dink sy kón nie, dit was vir haar te erg.”
Die nare keerpunt vanjaar was die storielyn in die hospitaaldrama Binneland.
Haar karakter, Elise, is ook as kind gemolesteer. Ook háár ma wou haar nie glo nie.
“Ek
het ingestem om dit te doen. Maar ek het nooit besef dit gaan my so erg
terugneem na my eie kinderjare nie. Ek moes elke dag die vernedering en
die skuldgevoelens beleef en herleef.”
Toe die storielyn klaarmaak, was sy gebreek. Sy sou nie opgee tot sy dood is nie.
’n
Mislukte selfmoordpoging was toe reeds agter haar. Die kabel waarmee sy
haar wou ophang, het gebreek, toe val sy haar “des moers”.
Toe sluk sy ’n oordosis pille.
“Ek het was net ’n dag afwesig van die werk, want ek het die drup uitgetrek en myself ontslaan.”
Sy
het vir terapie gegaan, begin oefen, gesond geleef. Ná ’n maand het
alles ingegee. Die finale trigger was ’n mislukte verhouding.
“Ek
het twee dae lank in die bed gebly. Toe drink ek ’n bottel wyn uit om
alles te verdoof. Die kar het in die garage gestaan, met die pyp reeds
aan die uitlaatstelsel gekoppel.”
Met ’n mes uit die laai het sy haar linkerarm tot op die been oopgekloof.
Haar “redding” was onverwags; sy het nie geweet haar huismaat is daar nie. Dié het ’n ambulans ontbied.
Elsje Stark, vervaardiger van Binneland, het “met deernis” kom sê hulle sal haar moet laat gaan. Sy het sewe jaar lank die rol van Elise vertolk.
“Ek kan verstaan hulle moes dit doen. Hulle kan nie elke keer die draaiboek oorskryf as ek iets aanvang nie.”
Nou kuier Lindie by haar ma, haar berg en haar branders.
“Ek
en my ma het soveel om vir mekaar te sê. Ek het haar bang gemaak, maar
sy het nooit haar rug op my gedraai nie. Nou kan ons praat.”
Sy wil teruggaan verhoog toe, ’n boek skryf, aanbiederswerk en stemwerk doen en boonop haar eie geselsprogram begin.
“Ek
wil Suid-Afrika se Ellen (DeGeneres) word. Gelukkig was dit nog nooit
nodig om uit die kas te klim nie. Almal het maar altyd geweet.”
Haar
organisasie, There is Always a Way, wat sy saam met vriende begin het,
samel geld in vir kunstenaars wat depressie het, maar geen mediese fonds
nie. ’n Liefdadigheidskonsert word vir 1 September op Dozi se plaas
buite Hartbeespoort beplan.
“Ek weet dis nie te laat nie. Ek wil ’n ambassadeur vir hoop en vir die lewe self word.”