Nuutste oor die Griekwastadmoorde
2012-10-17 12:20
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Jacques Steenkamp
Die 16-jarige seun wat daarvan verdink word dat hy vir Deon Steenkamp (44), sy vrou, Christelle (43) en hul dogter, Marthella (14), op Goeie Vrydag in hulle plaashuis buite Griekwastad vermoor het, sal op 5 November of kort daarna hoor of hy moet terug agter tralies.
Die hoofregter by die hooggeregshof in Kimberley het vroeër vandag besluit dat die borg-appèl op 5 November 2012 sal plaasvind. Landdros Oswald Mazwi het op 3 September sy uitspraak in die Griekwastad landdroshof tydens die seun se borgaansoek gelewer.
Mazwi het gesê hy voel dit is nie in die belang van geregtigheid om die kind hangende sy verhoor aan te hou nie en hy het dus die seun op borgtog vrygelaat. Die staat het egter kort daarna teen Mazwi se beslissing aansoek om appèl te doen. Voorverlede week is verlof tot appèl toegestaan.
Sou die staat suksesvol wees op 5 November sal die seun moet terugkeer na aanhouding tot sy verhoor op 11 Maart 2013 plaasvind. Adv. Hannes Cloete vir die staat en kol. Dick de Waal, die ondersoekbeampte, het verskeie kere tydens die borgaansoek in die landdroshof gewaarsku die seun is ‘n gevaar vir die samelewing en niemand se veiligheid kan gewaarborg word terwyl hy vry rondloop nie.
In die appèlaansoek het die staat aangevoer dat landdros Mazwi op 19 punte in sy beslissing gefouteer het. Die seun se verhoor sou aanvanklik die eerste twee weke in Desember plaasgevind het, maar omdat sy regsspan dan glo nie beskikbaar is nie, sal die verhoor nou van 11 tot 29 Maart 2013 plaasvind. Dit beteken die seun gaan moontlik vir byna vyf maande in aanhouding deurbring as die staat suksesvol is in hulle borgappèl; insluitend Kersfees en Nuwejaar.
* Om Jacques Steenkamp op Facebook te volg, kliek op sy naamlyn.