Nuwe VGK-moderator; nuwe visie
2012-10-20 23:37
Die VGK se stem gaan voortaan baie meer profeties wees en groter kritiek teen onreg in die Suid-Afrikaanse samelewing lewer.
Daarom is daar op sy pas afgelope sinode in Namibië nie net gesprek gevoer oor interne kwessies soos kerkhereniging, die gay-vraagstuk, geloofsbelydenisse en ampsdraers nie.
’n Daadwerklike verskuiwing van denke oor ekonomiese onreg – onder meer korrupsie, wanbestuur, selfverryking deur belastingbetalersgeld, “korrektiewe” verkragting en rotsbreking in die Karoo – het plaasgevind.
“Ná 18 jaar van demokrasie het net ’n illusie van die struggle om ekonomiese en politieke geregtigheid vir die armes en verdruktes oorgebly,” sê dr. Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel (53), die nuwe moderator.
Die sinode in Okahandja begin Oktober “sal in die geskiedenis aangeteken word as een waar die VGK sy klem verskuif het na een waarin hy die regering verantwoordelik hou vir dit wat hy verkeerd teenoor die samelewing doen”.
“Ons wil ’n kerk met ’n profetiese stem wees wat sy binne-gerigtheid na buite-gerigtheid verander. Ons speel ’n rol in die openbare debat.”
Dat die VGK ’n kerk is wat nuut begin dink, is sigbaar in haar verkiesing tot moderator, gee Plaatjies-Van Huffel toe.
“Ja, ek is die eerste vroue-moderator in die VGK en ek dink ook die eerste in die gereformeerde kerkfamilie in die land.
“’n Historiese denkraamwerk is verskuif. Hoewel die VGK al in 1994 ’n geslagsbeleid aanvaar het, is dit nie oral toegepas nie.
“Die meerderheidstem in ons kerk – mans – het gesê: ‘Ons is gereed vir ’n nuwe benadering. Ons is almal bereid om etikette weg te gooi.’
“Met my verkiesing tot moderator het die VGK eintlik gesê: ‘Ons het vertroue in jou om ons visie uit te dra.’”
Plaatjies-Van Huffel sê sy hoop sy is vir vroue binne én buite die kerk “’n visie van hoop vir hul eie loopbaan”.
“Maar mense moenie na my kyk en sê: ‘O, sy is ’n suksesverhaal’ nie. Ek is alle vroue se verhaal. My storie spoor dalk baie vroue aan.”
Sy is beskeie oor die grensdrade waaroor sy al sélf geklim het – om onder meer twee doktorsgrade binne vyf jaar te verwerf.
Sy is filosofies oor haar eie rol as kerkleier. “Die VGK is ’n kerk wat uit etlike kultuurgroepe bestaan. Dat hierdie kultuurgroepe nou saam ’n nuwe koers wil inslaan, is veelseggend.
“Ek is nie die ‘baas’ nie – ’n moderator is die een wat uiteenlopende sienswyses bymekaar moet hou. ’n Moderator het eintlik nie ’n stem nie.
“Ek moet met uiteenlopende denkstrominge kan konsulteer.”
Haar moderatorskap, saam met haar akademiese opleiding, “gaan nie oor aansien nie. Dit gaan oor hoe ek die kerk en sy mense beter kan dien.”