Nuwe hoof wil FAK verder vat as net sangboek
2012-02-04 22:50
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) wil met sy nuwe hoof aan die stuur met positiewe oplossings vir die Afrikaner en Afrikaans in Suid-Afrika vorendag kom.
Dr. Danie Langner, wat pas as die uitvoerende hoof aangestel is, het talle doelwitte vir die organisasie wat veel meer behels as die ikoniese sangbundel waarmee die meeste mense die FAK vereenselwig.
Volgens hom het die FAK se stem die laaste paar jaar stil geraak.
Hy wil die stem weer duidelik laat hoor, nie as ’n stem wat teen alles baklei nie, maar ’n stem met idees en oplossings.
“Die Afrikaner is honger vir positiewe idees en rigting,” sê Langner, wat tot nou die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand was.
Die FAK gaan binnekort ’n instituut bekend stel wat navorsing sal doen oor wat kulturele vryheid binne die Grondwet en die Handves van Menseregte behels.
Die instituut moet oplossings vir taal- en kultuurgemeenskappe bedink, spesifiek vir Afrikaners in Suid-Afrika.
Sulke oplossings behoort volgens Langner ook van nut te wees vir ander gemeenskappe in die land.
Langner, ’n leraar by die NG gemeente Doornkloof in Centurion, sê Afrikaners het baie om aan Suid-Afrika te bied.
“Ek is tog hier omdat ek my kinders hier wil grootmaak. Maar ek wil nie hê hulle moet ’n magtelose minderheid wees nie.”
Langner hoop die instituut sal debat bevorder op ’n vlak wat Jan en Alleman sal verstaan en opgewonde sal maak.
Die FAK se lede-organisasies, wat 250 000 mense verteenwoordig, kan op sigself uiteenlopend op voorstelle reageer.
Die organisasies sluit in die Afrikanerbond, die Voortrekkers, die Orania-beweging en Dameskring.
In sy soeke na oplossings wil die FAK ook kruisbestuiwing uit Europa inspan.
“In Suid-Afrika het gesprekke al so vasgedraai geraak.
“In Europa dink hulle nuut oor minderheidsgroepe; ons kan nuwe idees daar kry,” sê Langner.
Die instituut gaan deur Solidariteit gefinansier word, die vakbond waarbinne die FAK voortaan as selfstandige organisasie gaan bestaan.
Benewens navorsing gaan die FAK hom ook daarvoor beywer om buitelandse steun vir Afrikaans te mobiliseer en te vra vir druk op die regering vir die bevordering van inheemse tale.
Die 75 jaar oue FAK-sangbundel bly steeds een van die praktiese projekte waardeur die organisasie kultuur wil bevorder.
Langner sê meer projekte is nodig om die Afrikanerkultuur te ontsluit.
Die FAK wil verder die vak geskiedenis bevorder.
Volgens Langner is daar baie in die Afrikaner se geskiedenis wat vandag van waarde kan wees, maar waarvan baie jong mense nie weet nie omdat dit nie meer in die skoolkurrikulum is nie.