Nuwe net beloof veiliger waters
2012-10-13 23:19
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
’n Nuwe soort haainet gaan hopelik een van Kaapstad se gewildste swemstrande dié somervakansie veiliger maak deur mens en dier meer doeltreffend uitmekaar te probeer hou.
Volgens Sarah Titley, die projekbestuurder van Shark Spotters, is die net wat Vishoek voortaan gaan beveilig volgens ’n ontwerp gemaak wat nog nie voorheen in die wêreld gebruik is nie.
“Vissermanne gaan soggens die net van sowat 200 m langs die swemstrand in Vishoek laat sak en dit in die aande weer optrek.
“Die openinge in die net is skaars 5 cm groot. Geen haai of ander visse kan dus in die net verstrengel raak en doodgaan nie.”
Die nuwe haainet, wat deur die Stad Kaapstad gefinansier word, word “iewers tussen November en Januarie” ingespan.
In die laaste agt jaar is twee mense in Vishoek in haai-aanvalle dood, nog een het ’n been verloor en talle branderplanke het met bytmerke uit die see gekom, sê Titley.
Volgens haar is die haainet net ’n hulpmiddel en dit vervang nie Shark Spotters se personeel nie. Shark Spotters is ’n nie-winsgewende organisasie wat in 2004 gestig is toe die 16-jarige JP Andrews sy been in ’n haai-aanval in Muizenberg verloor het.
Die organisasie bedien tans sewe strande. Vishoek, Muizenberg, St. James, Noordhoek en Kogelbaai se strande word elke dag van die jaar vir haaie gemonitor, van 08:00 tot 18:00 in die winter en van 07:00 tot 19:00 in die somer. Glencairn en Clovelly se strande word van Oktober tot April oor naweke, vakansies en vakansiedae gemonitor.
“In die laaste agt jaar het ons 1 300 keer haaie gewaar. Dit is nie die aantal haaie nie, wel die aantal kere wat een gesien is,” sê sy.
Die meeste haaie wat nog op een slag gewaar is, was twee jaar gelede tydens ’n lugopname toe 37 haaie in die Valsbaai-gebied getel is.
Sowat 60% tot 80% van kere as ’n haai gewaar word, word swemmers gevra om uit die see te kom.