Nuwe versie vir ‘skiet die Boer’ vir álle wittes
2011-10-15 23:20
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die ANC en sy jeugliga het hulle gister gedistansieer van ’n groep ondersteuners van mnr. Julius Malema wat Vrydagaand by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) ’n lied gesing het met die woorde “skiet die wit mense”.
Die lied is gesing voordat Malema by Wits aangekom het om ’n lesing oor ekonomiese vryheid te lewer.
“Ek is in die versoeking om hierdie lied te sing,” het mnr. Tokelo Nhlapo, ’n lid van Wits se inkomende studenteraad en van die jeugliga, gesê.
Die studente het geantwoord met: “Sing dit!”
Nhlapo het toe die verbode lied Ayesaba amagwala saam met die studente begin sing, maar het die woorde “dubul’ iBhunu” (skiet die Boer) vervang met die woorde “dubulu lekgoa”. Dit beteken “skiet die wit mense”.
Op ’n vraag oor sy bedoeling met die woorde, het Nhlapo geantwoord: “Ek het die reg om nie kommentaar te lewer nie. Ek verkies om nie te sê wat ek bedoel het nie.”
Mnr. Keith Khoza, ’n ANC-woordvoerder, het in reaksie hierop gesê dié lied is ’n onbekende weergawe.
“Uit die ANC se oogpunt het ons nog nooit dié lied gehoor nie. Ons ken net die ‘skiet die Boer’-weergawe wat in die hof beland het.”
Mnr. Sindiso Magaqa, sekretaris-generaal van die ANC-jeugliga, het gesê die “skiet die wit mense”-weergawe van die lied is nie die jeugliga s’n nie.
Mnr. Sdumo Dlamini, Cosatu se president, het die liedjie verwerp en gesê dit klink soos haatspraak.
Regter Colin Lamont het vroeër die vryheidslied Ayesaba amagwala verbied omdat dit haatspraak is.
Die ANC appelleer teen die uitspraak in die konstitusionele hof.
Intussen het die ANC, onder leiding van mnr. Derek Hanekom, gister sy tugverhoor teen Malema en vyf ander jeugleiers agter geslote deure hervat, berig Sapa.
Khoza het bevestig dat mnr. Tokyo Sexwale, minister van huisvesting en nasionale uitvoerende komiteelid van die ANC, by gister se verrigtinge by die ENB-stadion in Nasrec, Johannesburg, getuig het.
Sexwale het verlede naweek in Tsolo in die Oos-Kaap gevra dat Malema vergewe word.
“As jy jonk is, maak jy soms foute; ons help jou reg. As jy weer foute maak, help ons jou weer reg. Mens kan nie ’n liga vernietig nie, so as hulle verkeerd is, help jy hulle reg.
“Dié jong man genaamd Malema doen soms verdagte dinge en praat baie. Hy kry homself soms in die moeilikheid. Daarna huil hy by ons om hom uit die moeilikheid te help. Ons moet hom nie vernietig nie. Moet hulle asseblief nie weggooi nie, hulle is te jonk,” het Sexwale gesê.
Malema was teenwoordig by gister se verrigtinge nadat hy vroeër in Polokwane gehospitaliseer was weens “griepagtige” simptome.
Die tugverhoor is uitgestel tot 26 Oktober.