Onnies sê loerbroer se m...
2012-12-29 23:17
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Lizel Steenkamp in Kaapstad
Pres. Jacob Zuma kan die ANC se plan om skoolinspekteurs weer in te stel op sy maag skryf.
So het die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou – wat 260 000 onderwysers verteenwoordig), die nasionale professionele onderwysersorganisasie (Naptosa – 73 000 lede) en die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU – 33 000 lede) aan Rapport gesê.
Zuma het die voorneme aangekondig om die stelsel van inspekteurs weer in te stel by die ANC se pas afgelope nasionale konferensie in Mangaung.
Die vakbonde sê ’n inspekteurstelsel sal ’n werkomgewing van vrees, intimidasie en viktimisering vestig.
Dit sal onderwysers verniel.
“Inspekteurs is net ingestel op foutvind. So ’n stelsel sal geen waarde toevoeg nie en onderwysers se professionaliteit, kreatiwiteit en onafhanklikheid ondermyn,” sê Mugwena Maluleke, hoofsekretaris van Sadou.
Basil Manuel, hoof van Naptosa, sê hoewel daar ’n dringende behoefte aan aanspreeklikheid by skole bestaan, is “die era van skoolinspekteurs wat dreig en intimideer verby”.
“Dit mag goed klink om die sweep terug te bring, maar ons het stelsels (vir aanspreeklikheid) wat net behoorlik deurgevoer moet word,” sê Manuel.
Volgens Chris Klopper, hoof van SAOU, was die destydse inspekteurs “professionele leiers” met die bevoegdheid om gehaltebeheer toe te pas.
“Maar vandag se distrikskantore is vakkundig onbevoeg.”
Sowel Manuel as Maluleke meen swak prestasie by skole is dikwels te wyte aan gebrekkige leierskap van skoolhoofde.
Manuel sê die departement sloer soms met ondersoeke wanneer skoolhoofde onderwysers weens wangedrag verkla.
“Die president is reg. Daar is ’n probleem, maar ’n inspektoraat is nie die oplossing nie.”
Maluleke voer aan die nasionale onderwysdepartement, met sy “onbevoegde” direkteur-generaal, is die probleem.
Personeellede op distrikvlak het ook nie die vaardighede om onderwysers by te staan nie.
“Die onderwysstelsel in sy geheel presteer nie,” sê hy.
Vakbonde meen bestaande meganismes om uitkomste in die onderwys te verbeter, moet eers behoorlik toegepas word.
Dit sluit in die eenheid vir onderwys-evaluering en -ontwikkeling (Needu) en die beplanning- en diensleweringsoorsigeenheid (Pdou) wat wanfunksionele skole moet bystaan.
Paul Colditz, hoof van die Federasie van Beheerliggame (Fedsas), gee die vakbonde gelyk.
Hy sê die bedoeling met Needu was om ’n mate van verantwoordbaarheid te vestig.
“Maar niks gebeur nie. Needu kom nie van die grond af nie.”