Ons vir jou, Madiba
2012-07-15 00:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Oudpres. Nelson Mandela het 67 jaar van sy lewe daaraan gewy om te veg vir die regte van mense. Ter viering van sy 94ste verjaardag Woensdag word mense weer gevra om 67 minute van hul tyd af te staan om werklik ’n verskil in iemand anders se lewe te maak. Karin Burger het agt voorste Suid-Afrikaners daaroor uitgevra.

Francois Pienaar, Wêreldbeker-Springbokkaptein in 1995, sê hy wens Madiba net goeie gesondheid toe. Hy bring baie tyd deur by die Francois Pienaar Make A Difference Foundation (MAD). Hulle ondersteun potensiële rolmodelle. “(Mandeladag) gaan beslis met MAD te doen hê.”

Die aktrise Vinette Ebrahim, Charmaine van 7de Laan, sê sy beplan reeds lankal om haar ou klere en skoene uit te deel. “Toe ek Vrydagaand hout gaan koop en ek sien hoe mense in die koue op straat leef, het ek besluit Mandeladag is die regte dag om iets aan hierdie arme mense se situasie te doen.”

Die sakereus Johann Rupert sê hy is baie na aan Madiba en hy gaan beslis op dié spesiale dag aan hom dink. “Verder probeer ek om regdeur die jaar en vir baie meer as net 67 minute lank goed te doen vir ander mense.”

Prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, se Mandeladag word deur ’n R5-muntlegging op sy kampus in beslag geneem. Dit is deel van die No Hungry Student-veldtog en word in vennootskap met Pick n Pay Hyper in Bloemfontein aangebied.

Vir Pieter-Dirk Uys, tannie Evita Bezuidenhout se alter ego, is diere net so belangrik soos kinders. “Ek gaan 67 minute saam met die kinders van die Darling Development Centre by die Dierebeskermingsvereniging deurbring. Dis belangrik dat hulle van kleins af leer om diere met respek te behandel.”

Die televisiepersoonlikheid ElanaAfrika is deesdae ’n radio-aanbieder by Kfm 94.5 in die Kaap. Op Mandeladag gaan sy terug skool toe. Afrika bring die oggend deur by haar alma mater, die Hoërskool Parow, waar sy 67 minute lank ’n motiveringspraatjie aan die leerlinge wil lewer.

Die gewilde SABC2-nuusleser Riaan Cruywagen sê hy gaan 30 minute van sy 67 minute gebruik om sy land in te lig oor die dag se nuus, net soos hy elke dag doen. “Ek het nog nie oor die ander 37 minute besluit nie, maar dit gaan seker vir navorsing vir die nuus wees.”

Santie Botha, kanselier van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, bring Mandeladag saam met haar ma deur. “Ek wil my 80-jarige ma, Mary-Ann, lekker bederf en uitneem om iewers in die Kaap te gaan eet,” sê dié Sakevrou van die Jaar van 2010.