‘Ons wil die ANC pak’
2012-10-20 23:33
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Loyiso Sidimba en Sabelo Ndlangisa
Die organisasie wat die land se mynbou met onwettige stakings probeer verlam, wil ’n politieke party stig om die ANC by die stembus te pak.
Die ver-linkse Demokratiese Sosialistiese Beweging (DSM) koördineer glo die laaste weke se arbeidsonrus en dit blyk deel te wees van sy voorbereidings vir ’n politieke veldtog.
“Ons wil ’n massa-werkersparty op die been bring,” het Thamsanqa Dumezweni (72), een van die DSM se vyf uitvoerende komiteelede, gesê.
Volgens hom probeer hulle sedert 2002 ’n politieke alternatief vestig. “Dit is nie maklik nie ... maar gemeenskappe regoor die land begin besef die ANC en sy regering kan dinge nie regruk nie.”
Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van die vakverbond Cosatu, het gister te velde getrek teen die DSM en hom daarvan beskuldig dat hy die stakings probeer uitrek.
“Daar sal gevolge wees wat hulle nie sal kan hanteer nie,” het Vavi op ’n mediakonferensie in Johannesburg gesê.
“Die DSM gaan nie daar wees om die stukke op te tel nie. Hy wil werkers in ’n sloot lei om sy invloed te versterk.”
Hy het gewaarsku dat werkgewers die stakings “as verskoning gebruik” om mense in die pad te steek te midde van die internasionale finansiële krisis.
Vavi het ook gesê die DSM sit agter ’n voorval waarin hy en leiers van die Union of Mineworkers (NUM) eergister in Orkney met klippe bestook is. Vavi en leiers van die NUM moes die aftog blaas toe hulle werkers by AngloGold Ashanti se myn wou toespreek.
Sapa berig ook dat mynveiligheidsbeamptes Liv Shange, ’n DSM-leier, hier ondervra het nadat sy werkers vroeër glo aangemoedig het om nie hul arbeidsoptrede te versaak nie en om nie na Vavi te luister nie.
Nog ’n DSM-leier, Mametlwe Sebei, het verlede week aan AngloGold Ashanti se werkers in Carletonville gesê die land het ’n nuwe regering nodig. “Ons trek ’n streep in die sand. Ons bou ’n sosialistiese alternatief.”
Die DSM-leierskorps ontken dat hulle onrealistiese verwagtings by werkers skep.
“Die werkers weet wat (die waarde is van wat) hulle produseer,” het Sebei gesê. “Die gevestigde vakbonde het die werkers in die steek gelaat.”
Vavi het Saterdag op die mediakonferensie ook gesê die DSM stig stakingskomitees om die NUM te ondermyn, maar dat Cosatu planne het om werkers se vertroue te herwin. Die vakverbond beplan volgende Saterdag ’n massasaamtrek in Rustenburg.
Die Marikana-treurspel het Cosatu se swakhede blootgelê, het Vavi gesê.