Ontkleeklub se baas wil NVG kaal uittrek
2012-09-29 23:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die ontkleeklub-eienaar Andrew Phillips wil die staat kaal uittrek.
Dit kom nadat die appèlhof in Bloemfontein beslis het hy mag nie weer vervolg word nie op onder meer aanklagte dat hy ’n bordeel bedryf het uit twee van die Johannesburgse plesierpaleise wat hy voorheen besit het.
Phillips is in Februarie 2000 in hegtenis geneem omdat hy glo onwettig prostitute in diens geneem het, van die opbrengs van prostitusie geleef en valse verklarings afgelê het.
Hy is in November 2008 vrygespreek, waarna die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in Februarie 2009 geappelleer het.
Die NVG se gesloer met dié appèl het Phillips genoodsaak om hom te wend tot die hooggeregshof in Johannesburg, wat einde verlede jaar beslis het die NVG het ’n “onbillike vertraging” veroorsaak. Die hof het aanbeveel dat die aanklagte laat vaar word, waarna die NVG en die minister van justisie na die appèlhof is.
Luidens The Star beplan Phillips ’n skadevergoedingseis van tussen R600 miljoen en R1 miljard teen onder meer die NVG.