Ooievaar kom op Virgin-vlug
2012-10-20 23:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
’n Swanger vrou het met meer as net haar handbagasie van die Britse lugdiens Virgin Atlantic se vlug VS601 tussen Londen en Johannesburg afgeklim.
Die vliegtuig, wat Donderdag omstreeks 20:30 van Heathrow af vertrek het, moes vinnig ’n nuwe landingsplek soek toe ’n vrou aan boord geboorte gegee het aan ’n seuntjie.
Sy was 32 weke swanger.
Die kraamproses het ’n paar uur ná die opstyging begin toe die passasier gekla het oor krampe.
Met die besef dat sy geboorte gaan gee, het die kajuitlede ’n bed uit kussings en komberse in die agterkant van die vliegtuig gemaak en haar toe deur die geboorte gepraat.
Emma Goodman, die kajuitdienstoesighouer vir die vlug, het gehelp met die geboorte.
“Dit het so vinnig gebeur.
“Een oomblik was ons nog besig om drankies te bedien en die volgende het ons gehelp met ’n bevalling.”
Volgens Goodman was dit glo erg emosioneel en met die kaptein se aankondiging van die kleinding oor die interkom, het die pasgeborene sy eerste ronde applous van die passasiers gekry.
Hy is, na wat berig word, die vierde baba wat vanjaar in ’n kommersiële vliegtuig gebore is.
Die vliegtuig is herlei na Palma, Majorka, waar ma en seun gehospitaliseer is.
Volgens Bonita Boni, Virgin Atlantic se woordvoerder, gaan dit goed met albei.
Die vliegtuig se neus is teruggedraai Londen toe, waar vlugte herskeduleer is en die passasiers se reis Suid-Afrika toe met ’n dag verleng is.
Boni het aan Rapport gesê die lugdiens waag geen kanse met mediese krisisse nie.
“Ons draai onmiddellik die vliegtuig om.”
Linden Birns, besturende direkteur van Plane Talking, sê lugdienste se beleid oor swanger passasiers verskil.
Volgens Boni is Virgin Atlantic se beleid dat ’n vrou wat tussen 28 en 36 weke swanger is nog toegelaat sal word om te vlieg.