Oscar se oupa drink dop op hom
2012-08-04 23:41
“Ek is baie, baie trots op hom. Hy het GUTS, met hoofletters.”
So het Hendrik Pistorius (95), Oscar Pistorius se oupa, gister aan Rapport gesê nadat sy kleinseun geskiedenis gemaak het toe hy die eerste dubbel geamputeerde atleet geword het wat aan die Olimpiese Spele deel neem. Pistorius het vir die halfeindronde van die 400 m gekwalifiseer.
’n Lewenslustige Pistorius sr. sê gister hy het Oscar op die televisie sien hardloop en “alles laat opneem wat opgeneem moet word”.
Oscar se pa, Henke, en ouma Gerti (89) ondersteun hom in Londen.
“Oor drie weke is dit my en my dogter Heidi se beurt om hom in Manchester by die Paralimpiese Spele te ondersteun.”
Heidi sê toe hulle gister met Henke en Gerti oor die telefoon gepraat het, het hulle net gesê hulle “huil heeltyd van vreugde”. “Die vreugdevure brand vir ons.”
Oupa Pistorius sê as Oscar ná ’n wedloop sy hande saamvou, “is dit uit erkenning aan sy mamma wat oorlede is toe hy 14 jaar oud was. Ons het altyd geweet hy gaan groot wees, want hy glo nie hy is gestremd nie.”
Heidi sê Oscar aard na sy oupa, wat steeds een van die grootste landbou-kalk-ontginners in Suid-Afrika is. “Oscar het ongelooflike geestelike energie en ’n gees waarmee rekening gehou moet word.”
Oupa sê: “Ek voel nog baie jonk. My chauffeur (Jeffrey Loboho) ry my nog van die ouetehuis af kantoor toe. Ek het ook my eie gimnasium waar ek boks. Ek is verlede week as president van die Veterane Boksersvereniging verkies en het twee weke gelede ’n eland ’n ‘breinskoot’ gegee toe ek en Jeffrey in Botswana gaan jag het.”