Oud-rugbyspeler word sangsensasie
2012-08-04 23:41
Op die rugbyveld het die stut Frik Venter sy teenstanders behoorlik laat les opsê.
Nou het sy sweterige trui en rugbybal plek gemaak vir ’n mikrofoon en ’n pak klere.
Hy het onlangs uit Amerika teruggekeer waar hy by die World Championships of Performing Arts as die beste tenoor in die kategorie vir 25 jaar en ouer gekroon is.
Die oud-rugbyspeler het ook by die Miss Teen USA-kompetisie gesing.
Kris Jay (30), soos hy as sanger bekend staan, sê rugby was sy passie, maar musiek was nog altyd sy droom.
“Die kompetisie was amper iets soos America’s Got Talent, maar in dié geval is dit verskillende lande – 52 van hulle – wat teen mekaar meegeding het.”
Jay sê die Nederlanders het hom klaar genooi vir ’n optrede daar en daar is ook twee platemaatskappye in onderskeidelik New York en Los Angeles wat belangstel om saam met hom te werk.
“Dit was ’n fantastiese ondervinding. Ek kon nie vir meer gevra het nie.”
Hy is ’n Pretorianer en het tussen 1997 en 2000 vir die Hoërskool Waterkloof se eerste span gespeel.
Daarna het hy professionele rugby gespeel vir ’n klomp plaaslike spanne soos die Blou Bulle, Sharks, Valke en Griekwas.
Hy het in 2008 en 2009 vir Saracens in Londen uitgedraf, maar in 2010 teruggekeer om hom by die Griekwas aan te sluit.
Dit was in 2009 in Londen waar hy die geleentheid gekry het om saam met die groep Right Said Fred die liedjie Stand up (For the Champions) op te neem.
“Die uitvoerende hoof van Saracens, Edward Griffiths, en die bestuurder van Right Said Fred, Mike Andrews, is goeie vriende.
“Toe Edward hoor Right Said Fred gaan die liedjie opneem, het hy voorgestel dat die stut van Saracens saamsing. So het ek toe ook in die ateljee beland.”
Venter was tot verlede jaar betrokke by die afrigting van ’n skolespan, maar is nou so besig met sy sangloopbaan dat hy nie meer tyd kry vir die rugbyveld nie.