Oudpres. Paul Kruger word ’n fopdosser
2011-01-01 16:41
Eers is Krugerdag se naam verander, toe begin mense dreig om die oudpresident se standbeeld van Kerkplein in Pretoria te verwyder, en nou teken kunstenaars selfs prente van pres. Paul Kruger in rooi hoëhakskoene, visnetkouse en sexy suspenders .
Wat moet die arme man nóg alles deurmaak?
Dit sal egter ’n fout wees om hul skets van Kruger in vroue-onderklere as ’n belediging te beskou, meen Stefanus Nel, een van die geeste agter dié ontwerp wat deesdae op T-hemde verskyn.
“Ons het probeer speel met die gedagte van hoe Kruger sou gelyk het as hy vandag gelewe het,” sê Nel. “En toe dink ons dalk sou hy ’n cross-dresser gewees het. Hy het mos ’n oorbel gedra.”
Nel bedryf ’n geruime tyd reeds ’n bemarkingsprojek genaamd Blink Stefanus, waar hy ’n logo van ’n rooi gesig in ’n helm op verskillende maniere probeer bevorder. As deel daarvan vra hy onder meer kunstenaars om werke met dié logo op te ontwerp.
Toe hy onlangs die kunstenaar Michelle Nursey gevra het om iets vir die projek te doen het sy met dié prent van Kruger vorendag gekom – kompleet met die Blink Stefanus-logo op Kruger se kitaar (langs logo’s van die webwerf Wat kyk jy? en die rockgroep Die Antwoord).
Dié T-hemde word deur die webwerf zefshop.com verhandel.
“Baie mense dink dié T-hemde is net vir Afrikaanse mense,” sê Nel, “maar baie ander Suid-Afrikaners dra dit ook. Swart mense dra dit. En allerlei jong mense met ’n oop gemoed wat nie bang is om die grense te toets nie.
“Maar daar sal seker ’n paar mense wees wat die m**r in is daaroor.”
Onder die ander T-hemde wat Nel laat ontwerp het, is ’n spesiale T-hemp vir Siamese tweelinge, een vir iemand wat net een arm het en een vir die vetste mens in die wêreld. In Januarie gaan hy ’n projek begin om draers vir dié hemde te vind.