Ouma (90) gee vet op Kyalami
2012-10-13 23:19
Sy het nog altyd van vinnige motors gehou en op die ouderdom van 90 klim sy in die komende week agter die stuur van ’n vuurwa in – nogal op die Kyalami-renbaan in Midrand.
Joey Botha gaan haar 90ste verjaardag vier deur die petrolpedaal van ’n blitsvinnige motor op dié renbaan plat te trap.
Haar seun en kleinseun het besluit om hul haastige ouma vir haar verjaardag te bederf deur vir haar ’n jaagsessie Vrydag te reël.
Botha sê as jong meisie het sy baie graag Kyalami toe gegaan en die gogga het haar toe al gebyt. Sy wou altyd op dié baan jaag.
“Dit was altyd ’n hartstogtelike begeerte en nou word my wens vervul danksy my seun en kleinseun.”
Nico Botha, haar kleinseun, sê hulle het deur die jare altyd diskreet probeer uitpluis wat sy die graagste wil hê. Vanjaar het hulle besluit dit is tyd om haar droom te bewaarheid.
“Ek het nog glad nie ’n idee hoe vinnig ek gaan ry nie. Maar ek hou nie van ’n gesloer nie ... Hoe vinnig dink jy kan ek ry? Wat as ek by 180 uitkom?”
Botha en haar man, Burger (93), het verlede week na die Palms Renaissance-aftreeoord in Silverton, Pretoria, verhuis. Sy het toe van haar motor ontslae geraak omdat hulle by die aftreeoord oral heen gekarwei word.
“’n Mens kan sommer voel hierdie kar ry lekker,” sê sy terwyl sy vashou aan die stuurwiel van die Volkswagen GTI waarmee sy gaan ry.