PW ‘sit en tik’ nog in Die Anker
2010-03-06 22:55
Dit gons in Wildernis oor die “apartheidspook” wat lóóp in Die Anker, woonhuis van die ontslape oudpres. PW Botha.
En as ’n mens na sommige dorpenaars luister, dan word daar ’n veldtog van gedwonge verskuiwing uit die graf gevoer…
Want sien, sê hulle, die voormalige president hou nie van die nuwe eienaar nie.
Die sakeman mnr. Sango Ntsaluba van Johannesburg wat Die Anker vir R4 miljoen op veiling gekoop het, het glo al nege sangomas gehuur om die spook te verdryf.
Ntsaluba het kort nadat hy Die Anker gekoop het, gesê anders as die hardnekkige Tshwane-metroraad en Pretoria is naamsverandering nie op sy agenda nie.
En hoewel hy ’n teenstander van Botha se apartheidsbewind was, is dit in die nuwe Suid-Afrika g’n rede om sy neus op te trek vir eiendom nie.
Ntsaluba woon in Johannesburg en gebruik Die Anker as ’n vakansiehuis. By Rapport se besoek die afgelope week was die huis leeg.
“Die oubaas is baie kwaad,” sê ene Pieter, opsigter by die toeriste-onderneming Map of Africa.
Hy glo die spookstories “is so waar soos ’n koei”.
“Swart mense het die huis gekoop. Hy hou nie so baie van die swartes nie.
“Die oubaas sit saans in sy computer-kamer en tik. Ek weet nie wat hy tik nie. Maar niemand kan hom wegkry daar nie,” vertel Pieter.
Mnr. Hugo Leggatt, ’n inwoner van die dorp, sê hy het nog nooit die storie gehoor nie, “maar dit verbaas hom nie”.
Ntsaluba, wat in Januarie laas in Die Anker vakansie gehou het, wou nie op Rapport se navrae reageer nie.