Pa in arres ná baba seerkry
2012-09-09 01:06
Marlene Malan in Kaapstad
Op Facebook hou hy van die groepe “Boere Afrikaner” en “Grapgat Hoekie”.
Visvang en braai is sy gunsteling-tydverdrywe.
Op 21 Augustus bedank Tertius van den Berg, ’n enkelpa (26) van Mosselbaai, vriende omdat hulle hou van die Facebook-foto’s van sy kinders: ’n driejarige meisietjie en drie maande oue seuntjie.
Op Maandag 3 September verskyn hy op ’n aanklag van poging tot moord in die landdroshof op Mosselbaai.
Dit het gekom nadat die seun in die hospitaal opgeneem is weens veelvuldige, ernstige kopbeserings, gebreekte ribbes en bobeenbreuke, het kapt. Bernadine Steyn, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, gister aan Rapport gesê.
Die baba is aanvanklik in ’n hospitaal in George opgeneem, maar is oorgeplaas na die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad, waar hy in ’n kritieke toestand in die hoësorgeenheid is.
“Die voorval het vermoedelik tussen 26 en 27 Augustus gebeur,” het Steyn gesê.
’n Ingeligte het aan Rapport gesê: “Ons vrees erge breinbeserings. Dis die ergste geval van kindermishandeling wat ek in jare gesien het.”
Amanda Beukes, ’n maatskaplike werker op Mosselbaai, sê dit blyk “daar was voortdurende huwelikskonflik tussen die baba se ouers”. Die ma het die pa verlaat toe die baba een maand oud was.
Sy het die kleintjie saam met haar geneem.
“Die pa het, met haar toestemming, die baba op 17 Augustus op die O.R. Tambo-lughawe naby Johannesburg gaan haal.”
Die meisietjie is in ’n plek van veiligheid.
Die pa se prokureur, Johan Cronjé, het gesê Van den Berg verskyn môre in die landdroshof in George vir ’n borgtog-aansoek.