Pallo Jordan looi ANC oor Turok
2012-05-05 23:47
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dr. Pallo Jordan, ’n ANC-veteraan, het met die kweperlat onder sy partylede ingeklim oor die ANC se tugoptrede teen prof. Ben Turok, ANC-LP, oor dié se teenkanting teen die omstrede Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting.
Jordan het die nasionale tugkomitee (NTK) van die ANC die afgelope week oorreed om Turok se verhoor uit te stel.
’n Onverbiddelike Jordan het die NTK se optrede aangeval en aangevoer dié forum is die verkeerde een om Turok – wat 85 jaar oud is – te straf.
Hoewel Jordan nie geslaag het om die party te oorreed om die klagte terug te trek nie, het sy kwaai woorde en invloed die party in ’n moeilike posisie geplaas.
Jordan is lid van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) en nasionale werkkomitee.
Die NTK het Turok se tugverhoor Woensdag uitgestel nadat Jordan teen die komitee, wat deur Derek Hanekom gelei word, uitgevaar het.
Hy het dit na bewering ’n “boendoehof” genoem. Rapport kon dié stelling nie met Jordan bevestig nie.
Jordan, wat Turok en Gloria Borman, ANC-LP, verteenwoordig, het wel bevestig hy het gesê die tugverhoor behoort nie voort te gaan nie, maar hy wou nie verdere besonderhede verstrek nie.
Die ANC het Turok en Borman voor stok gekry omdat hulle in November in die Na-sionale Vergadering (NV) geweier het om ten gunste van die inligtingswetsontwerp te stem.
Turok het kort voordat daar oor die wetsontwerp gestem is uit die NV gestap en Borman het buite stemming gebly.
Twee bronne, een in Luthuli-huis en die ander ’n regeringsamptenaar met noue bande met die ANC-hoofkwartier, het bevestig dat Jordan die NTK berispe het oor hul besluit om Turok te dissiplineer.
Die bron binne Luthuli-huis het gesê die party is huiwerig om voort te gaan met Turok se saak, wat volgens Jordan “van die baan gevee” moet word.
“Daar is geen aptyt in Luthuli-huis of in die NTK om hiermee voort te gaan nie, maar die parlementêre koukuspaneel wat die klagte ingedien het, soek Ben se bloed,” het die bron gesê.
Die regeringsamptenaar het gesê Jordan het nie doekies omgedraai toe hy Turok verdedig het nie.
“Hy het aan hulle gesê dié 85-jarige man gaan nié deur hul boendoehof verhoor word nie,” het die bron gesê.
“Hy het gesê hulle moet ’n politieke oplossing vind.”