Peters se boetes verby Tina s’n
2012-07-21 23:53
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dipuo Peters, minister van energie, het Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, onttroon as die boetekoningin. Peters het die afgelope twee jaar met haar amptelike motors verkeersboetes van R40 000 opgestapel.
Rapport het verlede maand berig hoe Joemat-Pettersson oor drie jaar boetes van R30 000 gekry het.
Peters het ná ’n baie kort uiteensetting van haar boetes in Pretoria en Kaapstad gesê die polisie se eenheid vir Baie Belangrike Persone neem haar na en van haar amptelike afsprake. Die boetes is deur dié eenheid se lede “aangegaan”.
Haar polisiebestuurders het in Pretoria verkeerswette oortree wat tot R39 100 se boetes gelei het. Die Kaapstadse boetes is net R300.
Oor of dit vereffen is, word nie gesê nie. Nie een van die tien ministers wat die DA se parlementêre vraag oor verkeersboetes in amptelike voertuie geantwoord het, het aangedui of die boetes betaal is en indien wel, deur wie nie.
’n Boetelas van R96 000 sedert 2010 is onthul, maar dit geld net tien ministers uit 34 wat geantwoord het. Dit beteken dié bedrag is die seekoei se oortjies.