Pippie gaan winkel toe
2012-10-15 06:37
Christine van der Westhuizen
Wat ’n mens eerste van Pippie Kruger (3) opval, is haar helder albasterblou oë. Sy het ’n kyk aan haar, dié meisietjie.
Sy kyk en jy kyk terug en hoe langer jy kyk, hoe ligter raak die rooi letsels, totdat jy dit nie meer raaksien nie.
“Engel-ogies,” sê haar ma, Anice op ’n uitstappie na die Cresta-winkelsentrum in Randburg waarop Rapport die twee vergesel het.
Maar nou is die klein engeltjie omgekrap in die restaurant waar ons gesels. Haar ruggie styf, met heserige geluidjies en kwaai ogies “raas” sy met haar ma. “Sy is honger, dis hoekom,” sê Anice. “Sy het ’n vreeslike eetlus!”
Die kelnerin bring vir haar ’n omelet. “Hallo, Pippie,” glimlag sy. Anice voer, maar nie vinnig genoeg nie. “Pippie, moenie met my raas nie!”
Gou is die kleinding die enige glimlaggies. Tussen die happies deur loer sy met blink ogies vir die fotograaf, wat haar al vantevore afgeneem het.
“Hoe maak ’n renoster?” speel hy en sy trek haar neusie op ’n plooi.
“Amazing,” sê ’n vrou by die tafel langsaan. Dan kyk sy verskonend na Anice, maar dié lag net.
“No, its fine, she stole everyone’s heart.”
Pippie het in Junie wêreldnuus gemaak toe sy die eerste Suid-Afrikaner geword het wat ’n veloorplanting, met vel wat in die VSA van haar eie selle gekloon is, ondergaan het.
Mense se harte is aangegryp deur die uiterste moed waarmee die klein meisietjie aan die lewe geklou het en hoe haar ma eenvoudig haar eie lewe opsy geskuif het vir haar dogter.
Sy was twee en half toe ’n bottel vuuraansteker in haar pa, Erwin, se hande tydens ’n vleisbraai op Oujaarsaand ontplof het. Die jel het op haar beland en sy het van kop tot tone verbrand.
Mense het die grootste bewondering vir Anice, maar sy skud net haar kop. “Ek dink elke mamma sou gedoen het wat ek gedoen het.”
Hoewel Pippie goed vorder, is “teruggaan huis toe, Ellisras toe” ’n teer kwessie.
“Ek mis nie Ellisras nie,” sê Anice ferm. "Ek vertrou nie meer Ellisras nie, nie ná daai aand nie.”
Die dorp waar haar kind verbrand het en waar nie een van die hospitale hulle daardie skriknag kon help nie.
“Ek weet daar is fisio’s en spraakterapeute, maar hulle het nie die pad met Pippie gestap nie. En wat gaan ek van daar af kan doen? Hoe gaan ek ander kinders help?”
Want haar lewe het nou ’n doel: Om ander soos Pippie te help.
“Ek glo dit was God se plan om ons op hierdie plek te kry. Pippie was die proefkonyn.”
Sy is ’n streng ma wat glo in roetine en dissipline.
Ouma Loesje Burger kyk nou na die eenjarige Arno terwyl Anice haar oor Pippie ontferm.
Oral in die winkelsentrum herken mense hulle.
“Ek wil vir jou sê, ons bewonder jou krag,” sê ’n vrou wat eers verby gestap en toe omgedraai het.
Sy neem Anice aan die arm. “Jy is baie sterk.”
Nog mense kom verby.