Pippie se eerste ‘crush’
2012-07-07 23:31
Hanri Wondergem en Paddy Harper
Pippie Kruger het wêreldwyd harte gesteel, maar haar hart behoort aan dr. Ridwan Mia, haar chirurg.
Nou is Mia met vakansie en Pippie verlang vreeslik na hom, het haar ma, Anice Kruger, gister aan Rapport gesê.
“Ek dink sy het haar eerste crush. As dr. Mia naby is, tuit sy haar lippies en maak kermgeluidjies, asof sy vir hom vertel wat almal verkeerd doen.
“Dis dierbaar. Sy lyk altyd of sy hom wil soen as hy haar wang en ken vryf of haar verbande ruil,” sê Anice.
Al is hy maar skamerig, het hy ingestem om deel te neem aan ’n geldinsamelingsprojek: Wen ’n date met dr. Mia. “Vroue kan op hom bie. Hy is ’n pragtige mens, maar hy kry vreeslik skaam.”
Pippie het opslae gemaak toe vel wat in Amerika gekweek is 90% suksesvol op haar oorgeplant is nadat sy op Oujaarsaand derdegraadse brandwonde oor 80% van haar lyfie opgedoen het.
Ná dié suksesse het talle ander ouers ook navraag gedoen oor dié behandeling.
“Ons plaas mense in verbinding met Genzyme (die Amerikaanse laboratorium waar die vel gekweek word),” sê Mia. Maar die koste en logistiek kan ’n hindernis wees, maan hy.
“Om vel te kweek neem tyd en is ’n moeilike proses.”
Pippie is Woensdag oorgeplaas na die Netcare-rehabilitasiehospitaal in Auckland Park in Johannesburg. Maande se fisieke en sielkundige rehabilitasie lê voor en dit sal minstens twee maande duur voordat sy genoeg spierkrag opgebou het om weer te kan loop.
“Sy het soveel tyd in die hospitaal deurgebring dat sy amper weer soos ’n baba is. Sy sal van voor af alles moet leer,” sê Mia.
Maar hy is verlig dat Pippie goed eet; sy gaan energie nodig hê vir genesing.
“En sy gaan sielkundige berading nodig hê. Daar is nie net die trauma nie, sy was ook lank in die waakeenheid. Dis goed dat sy in die rehabilitasiehospitaal is, dis halfpad tussen ’n hospitaal en die huis. Sy kan daar leer om met ander kinders te sosialiseer.”
Tesame hiermee gaan Pippie ook spraak-, arbeids- en speelterapie kry, sê haar ma. Sy “gesels” nou wel lekker saam, maar dis nog net geluidjies.
Die asemhalingspyp wat sy weke lank ingehad het, het veroorsaak dat sy nie praat nie.
“Dit veroorsaak nie permanente skade nie, maar dit maak kinders lui om te praat. Pippie weet as sy net ’n geluid maak, dan spring almal. Ek dink sy is ’n bietjie lui om te praat,” sê Anice.
Pippie se rehabilitasie “kan ’n dag of ’n jaar wees”, meen sy.
“Alles gaan oor God se perfekte tyd.”
Intussen sien Pippie uit na ’n besoek Dinsdag van die sanger Dozi, wat ’n konsert ten bate van haar gaan hou.
Die Krugers gaan ’n nie-winsgewende organisasie stig wat jong brandslagoffers sal help om dieselfde behandeling as Pippie te kry.
“Ons gaan dit ‘Pippie se Gesiggie-fonds’ noem omdat dit vir my so belangrik was om haar gesiggie te red. ’n Mens se gesig is tog jou menswees,” sê Anice.