Plaasgrond só onteien
2012-07-02 07:28
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die ANC se beleidskongres het ’n voorstel vir plafonne op produksie-landbougrond goedgekeur met die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper wat geskrap moet word.
Art. 25 van die Grondwet sal ná Mangaung, waar dit bekragtig sal word, die meganisme wees waarvolgens grondonteiening gedoen sal word.
Die nuwe onteieningswetgewing moet ook “vrek vinnig” afgehandel word, is gesê.
Dit beteken wit kommersiële boere sal van hul produksiegrond verloor en onbenutte grond sal in die “openbare belang” onteien word. Dieselfde geld grond wat deur restitusie ontvang is en nie gebruik word nie.
Voorts sal grond wat wederregtelik sonder vergoeding bekom is, onteien word.
So het Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, Vrydagaand gesê ná die ANC se beleidskongres in Midrand.
Pres. Jacob Zuma het ’n halfuur vroeër nog in sy sluitingsrede by die kongres gesê grondhervorming moet nou vinnig wegbreek van die verlede, maar dat dit nie voedselproduksie of voedselsekerheid moet ontwrig nie.
Dr. Theo de Jager, adjunkvoorsitter van Agri SA wat die afgelope week aan die rand van die kongres op versoek van die ANC ’n stalletjie vir landbou-inligting bestuur het, meen die plafonne is ’n groot terugslag vir kommersiële boere.
“Die grootste ouens (boere) is die seerste hieroor, want die werklikheid is 20% van die land se boere produseer 80% van die kos,” het De Jager gesê.
“Hoe is dit in die openbare belang om ’n deel van ’n suksesvolle plaas te onteien?” wou hy weet.
Toe die ANC verlede maand met die groot boere vergader het om bekommernisse te bespreek, is plafonne nie bespreek nie.
Dit is een van twee kwessies wat nog uitstaande is in die Groenskrif-proses.
Hoewel art. 25 van die Grondwet voortaan in die onteieningsproses gebruik sal word om vergoeding te bepaal én dit vir die boere ’n reuse-verligting is, is dit nie ’n gegewe dat markwaarde sal seëvier nie.
Markwaarde is maar een van vyf bepalings in die Grondwet om ’n prys vir onteiening te bepaal. Indien die grondeienaar en die staat nie op ’n prys ooreen kan kom nie, moet ’n hof ’n redelike prys bepaal, wat waarskynlik sal strook met wat die staat kan bekostig.
Intussen beloop die huidige landbouskuld sowat R79 miljard.
Hlengiwe Mkhize, adjunkminister van ekonomiese ontwikkeling en voorsitter van een van die subkomitees, het aan Rapport gesê dié skuld is ’n bedingingsmag in die onteieningsproses.
Sy het by haar kommissie uitgestap om die bedrag te gaan vasstel.
“Hoe kom ons (die ANC) na ’n beleidskongres en ons doen nie ons huiswerk en kry al die nodige inligting nie?” het sy verontwaardig gevra.
Die beleidskongres het Joemat-Pettersson tot Desember gegee om ’n grondoudit af te handel. Dié oudit kon sedert die grondberaad in 2005 nie gedoen word nie, ook nie sedert ’n resolusie daaroor in 2007 in Polokwane aanvaar is nie.
Die ANC-voetsoolvlakleiers het nou opdrag gegee dat ’n oudit oor private én staatsgrond afgehandel moet word. En in ander voorstelle van die kongres sal ontplooide kaders, soos Joemat-Pettersson, voortaan die trekpas kry as hulle nie presteer nie.
Rapport verneem van twee betroubare bronne by die kongres dat Joemat-Pettersson Langa Zita, haar departement se direkteur-generaal, die afgelope week geskors het omdat hy nie die grondoudit afgehandel het nie en haar voor ANC-kaders in die verleentheid gestel het.