Plakker bou spoghuis op boer se grond
2012-07-28 23:56
’n Radelose boer van Burgersfort in Limpopo wend hom ná agt jaar tot die hof om onwettige plakkers van sy grond af te probeer kry. Een van die plakkers het selfs ’n dubbelverdiepinghuis van siersteen op Roelof Joubert se plaas gebou.
Ook Joubert se buurman, Jacob Mohlala (88), is raadop oor veediefstal waarvoor hy dieselfde plakkers die skuld gee.
Joubert het in 2003 toegekyk hoe die eerste plakkers op Dresden, sy plaas van sowat 110?ha waar daar deesdae weens watertekort nie meer geboer word nie, aankom. Joubert verhuur die geboue op die perseel aan sakelui.
Die plakkers se selfaangestelde leier, Shaealegolo Kgwete, noem homself ’n hoofman en het intussen vir hom ’n weelderige dubbelverdiepinghuis op Joubert se grond gebou.
Joubert sê toe hy die eerste plakkers van sy grond wou afsit, het hulle gesê Kgwete het die grond aan hulle “verkoop”.
Van Kgwete se beloftes dat die plakkers binne ’n maand hul ry sal kry, het dadels gekom.
Ook Joubert se klagte van betreding by die polisie en pleidooie aan die Groter Tubats se plaaslike raad en die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming het op niks uitgeloop nie.
Die munisipaliteit het trouens in 2010 dienste aangelê na waar die plakkers en Kgwete woon.
“Kgwete tree op asof dit sy grond is en hy doen selfs gereeld rondes by die wettige huurders en waarsku hulle om nie hul huur aan my te betaal nie,” sê Joubert.
Mohlala eggo Joubert se treurmare. Hy boer op sowat 280 ha met bokke en beeste.
“Van die plakkers het my al met die dood gedreig.
“Wie het so min respek vir ’n bejaarde om my te probeer seermaak, te vloek en aan te val?
“Dit help nie eens ek gaan na die owerhede nie, want hulle doen niks,” sê Mohlala.
“Hierdie mense wat hier plak gee my baie probleme. Hulle gee my moeilikheid.
“Kgwete sê dis sy plaas hierdie, maar dis mý plaas. Hy sê vir my mense hulle moet nie vir my luister nie.”
Joubert het nou prokureurs genader om die saak in die hof te beveg.
“Dresden is my familieplaas en my huis en ek sal dit wat wettig myne is, beskerm. Ek is nie ’n muis nie, maar ’n man,” sê Joubert.
Kgwete het gister gesê hy wil geen kommentaar lewer oor die aantygings teen hom nie.