Polisie én leër pak bendes
2012-08-04 23:41
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die regering het ’n nuwe plan teen bende- en dwelmverwante misdade in die Wes-Kaap en die Oos-Kaap.
Dié plan sluit die polisie én die weermag in. Dit kom nadat pres. Jacob Zuma weke gelede Nathi Mthetwa, minister van polisie, en dié van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, gevra het om die stryd teen bendes in dié twee provinsies ’n prioriteit te maak.
Die gesamentlike dokument bevat ’n opdrag aan die twee provinsiale kommissarisse om elk onder meer ’n “provinsiale prioriteitskomitee” te stig om op bendeoorloë en dwelmbrandpunte toe te slaan.
Die betrokkenheid van die weermag word kortliks uitgestippel, maar geen “militêre ingryping” word beplan nie.
In die Oos-Kaapse Herald is berig dat weermaglede in krisispunte soos Helenvale, Gelvandale en Bethelsdorp in die Oos-Kaap ontplooi sal word.
Gesamentlike optrede – deur die polisie én die weermag – kom in woonbuurte soos Lavender Hill, Hanoverpark en Steenberg op die Kaapse Vlakte, waar ’n tiental kinders die afgelope ses maande in koeëlreën gesterf het.
Nasionale en provinsiale polisiewoordvoerders wou nie kommentaar lewer oor Rapport se navrae nie.
Al wat brig. Marinda Mills, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, wou sê, is dat die stryd teen bendes ’n prioriteit is vir die polisie.