Polisie jag ook vampiere
2012-10-22 05:16
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Jack Parow se liedjie oor die tokkelossie wat jou in die gang afjaag, is dalk nie so vergesog nie.
Die polisie het 18 speurders ontplooi om onder meer tokkelossie-verwante misdade, vampiere en gevalle van voedoe te ondersoek.
Luidens ’n polisiedokument wat op die internet uitgeblaker is, respekteer die polisie Suid-Afrikaners se godsdienstige en kulturele regte, maar dit “moet binne die perke van die wet wees”.
Twee speurders wat gespesialiseerde opleiding ontvang het, is in elke provinsie deur die provinsiale kommissaris aangestel om bystand te bied aan slagoffers van okkulte verwante misdade.
Kol. Tummi Shai, nasionale polisiewoordvoerder en aanbieder van die TV-program When Duty Calls, het aan Rapport gesê dié speurders is nie ’n taakspan soos die voormalige eenheid vir okkulte verwante misdade van dr. Kobus Jonker nie.
“Dit is net opgeleide speurders wat ondersoekbeamptes help om misdade te ondersoek wat met okkulte aktiwiteite verband hou.”
Shai het gesê polisielede kan die speurders nader om te help in sake wat met heksery, tradisionele genesing, vloeke, voedoe, vampiere, astrale dwang, bewerings van verkragtings deur ’n tokkelossie-gees en menslike offerande verband hou.
Jonker het by navraag bevestig hy was betrokke by ’n deel van die lede se opleiding.
Hy werk deesdae as konsultant vir die polisie
Volgens hom fokus hulle veral op moetie-moorde. Hulle ondersoek misdade wat met die okkulte verband hou, maar teiken nie enige godsdienstige bewegings as sodanig vir vervolging nie.
“Daar is selfs baie Christelike sektes wat gevaarlike dinge doen,” het Jonker gesê.
Hy het bygevoeg polisielede sal net ’n groep ondersoek wanneer hulle by misdade betrek word.
Oor die tokkelossie en vampiere het Jonker gesê ’n behoefte bestaan aan polisielede wat weet hoe om die publiek se gereelde klagtes oor bonatuurlike verskynsels te hanteer.
Die voormalige eenheid wat van 1991–’01 deur Jonker gelei is, het meer as 300 sake ondersoek wat met moetie verband gehou het.
Dié eenheid is ontbind ná klagtes dat hul bedrywighede sommige mense se godsdiensvryheid geskend het.
Met Halloween om die draai, dink dus maar twee keer voordat jy soos ’n vampier aantrek.
’n Speurder sak dalk net op jou toe.