Polisie ondersoek steeds sterfgevalle van pasiënte

2004-07-10 21:33

Verskeie sterfgevalle van pasiënte in die Suid-Kaap word steeds deur die polisie ondersoek, terwyl klagtes en beëdigde verklarings oor van die gevalle wat aan die Raad vir Gesondheidsberoepe gestuur is die afgelope week ná navraag deur Rapport nie opgespoor kon word nie.

Kapt. Eddie Cronjé, polisiewoordvoerder in die Suid-Kaap, sê hulle kon sover vasstel:

  •  Die geregtelike doodsondersoek van mev. Rhoda Muller van Albertinia is "in opdrag van die direkteur van openbare vervolging (DOV) verander in strafbare manslag", 'n strafregtelike saak waaroor 'n chirurg, dr. Hugo Prins, aangekla is en in Januarie in die streekhof in Mosselbaai verhoor word.

  •  'n Geregtelike doodsondersoek op mnr. Koos van Rensburg van Mosselbaai is "in opdrag van die DOV verander in 'n formele ondersoek in 'n openbare hof waar getuienis aangebied en gelei word". Hierdie ondersoek word môre in die hof in Mosselbaai hervat, het 'n aanklaer aan Rapport gesê. Prins, onder wie se sorg Van Rensburg was, woon dit by.

  •  Die DOV het besluit dat die geregtelike doodsondersoek op mev. Charnette Nysschen van Oudtshoorn "verander word in 'n formele ondersoek". 'n Datum word nog bepaal. Sy was 'n pasiënt van 'n ginekoloog, dr. Reinarda van Waart .

  •  'n Geregtelike ondersoek op mev. Analize du Plessis van Mosselbaai se dood is na die DOV gestuur. "Daar word nog gewag op sy besluit." Sy was ook een van Van Waart se pasiënte.

  •   Die ondersoek na die dood van mnr. Sieg Stander van Mosselbaai op 4 April vanjaar is afgehandel en ook na die DOV gestuur vir sy beslissing. Hy was 'n pasiënt van Prins.

    Cronjé sê hy kon nog nie vasstel of die dood van mev. Rita Brown in Desember 2002 ook ondersoek word nie. Hy vra dat mense wat die polisie in hul ondersoeke kan help hom bel by tel: 082-559-4665 of tel: 044-203-9023.

    Brown se man, Paul, sê sy vrou is in die Bay View-kliniek dood 'n dag nadat sy 'n histerektomie ondergaan het, maar sy was nie ten tyde van haar dood 'n pasiënt van Van Waart nie.

    "My vrou was perdfris en het die Vrydag ingegaan vir 'n histerektomie. Saterdag is sy dood."

    Daar is meer hospitaalgevalle wat nie noodwendig pasiënte van Prins of van Van Waart was nie.

    Só kan mev. Katy van Aswegen van Sedgefield ook steeds nie berus in die skielike dood van haar man, Gerrie, nie. "Hy was besonder fiks en het gereeld bergfietsgery, gejag, gholf gespeel en graag op die strand gaan stap.

    "Hy was voorsitter van Kakamas se Verbruikerskoöperasie voor sy aftrede. Nadat hy 'n roetine-angiogram ondergaan het, het sy niere ingegee en 'n hartoperasie is daarna op hom gedoen. Hy is twee weke later dood.

    " 'n Dokter in Bay View se woorde aan my was dat my man se niere 'n knock gevat het . . ."

    Sy het 'n klagte by die Gesondheidsraad ingedien.

    Mev. Annatjie Stander, wie se man, Sieg, in April dood is, sê hy was so fiks dat hy nog 'n week voor sy operasie vir 'n mantelvliesbreuk op sy fiets van Mosselbaai af George toe gery het. Hy het ook gereeld in die gimnasium geoefen.

    Mev. Stander sê sy het 'n klag by die Gesondheidsraad en die polisie ingedien.

    Mev. Nadine Hickman , wat 'n teaterkafee en geskenkwinkel in Mosselbaai bedryf, leef met die swaard van kanker oor haar kop.

    " 'n Stuk van my baarmoeder is in 'n histerektomie agtergelaat. Ek het ná die operasie baie siek geword. 'n Laboratoriumverslag se melding van die abnormale groei van selle is skynbaar misgekyk en 'n ginekoloog het later vasgestel dat 'n kwaadaardige gewas in daardie oorblywende deel van die uterus ontwikkel het. "Weens die hoë risiko kan die gewas nie uitgesny word nie. Ek het chemoterapie ontvang en al 36 bestralings. Al wat nou oorbly, is om elke drie maande aftastings te laat doen. Intussen leef ek met die swaard oor my kop."

    Uit Johannesburg het die seun van nog 'n pasiënt wat gesterf het, gesê hy wil nie in hierdie stadium sy pa se naam bekend laat maak nie. Ander pasiënte en naasbestaandes wat ongelukkig is omdat hul klagtes by die Gesondheidsraad blykbaar gë?gnoreer word, is mev. Dot Bormann van Hoekwil, mev. Christine Bertsch van Wilderness, mev. Martie Jenkins van Bellville en die drie seuns van wyle mev. Analize du Plessis van Mosselbaai. En mnr. R.L. Nysschen het 'n beëdigde verklaring opgestel vir die Gesondheidsraad met ernstige bewerings ná die dood van sy vrou, Charnette.

    - Rapport

  • binne rapport

    Weer
    Ksd: 12-21°C Sunny. Mild. Pta: 1-20°C Sunny. Mild.
    Jhb: 2-15°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 2-18°C Sunny. Mild.
    Dbn: 14-21°C Mostly sunny. Cool. PE: 8-18°C Sunny. Mild.
    7-dag-voorspelling...

    Betrekkinge - Vind jou droomwerk

    Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

    Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

    Magical Massinga

    Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

    Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

    Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

    Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

    Bespaar R700 op die Hisense LED TV

    Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

    Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

    Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

    Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

    Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

    Bespaar tot 40% op modetoebehore

    Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

    The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

    Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

    Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!