Polisie skop, slaan mense: VIDEO
2011-02-26 20:44
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Op videobeelde kan gesien word hoe swaar gewapende polisielede by die
kuierplek instorm. Vroue gil terwyl mense van hul stoele afgepluk en op
die vloer gegooi word waarna hulle deur die polisielede geslaan en
geskop word.
Talle word by die restaurant se trappe afgedwing en agterin twee polisievoertuie geboender.
Nee, dit is nie televisiebeelde uit Egipte of Libië nie. Die
voorval het in die bekende kuierplek Catz Pajamas in Melville
plaasgevind.
Niksvermoedende besoekers het gisteroggend omstreeks 04:00 die
restaurant begin verlaat toe sowat 15 polisielede binnegekom en die
ingang versper het sodat niemand kon uitkom nie.
Die polisielede was in die straat besig met ’n onverwante voorval toe ’n bottel blykbaar na hulle gegooi is.
Die polisie het glo vermoed die bottel is van die restaurantbalkon af gegooi.
Wat daarna gebeur het, is op die restaurant se veiligheidskameras vasgevang.
“Die een oomblik het almal nog rustig gesit en toe word daar op die
mense gegil om op die vloer te sit,” vertel mev. Natascha Coetzee, die
eienaar van die restaurant.
“Hulle het nie gevra om met my of die bestuurder te praat nie,
hulle het bloot die kliënte uit hul stoele getrek en sommige aangerand.”
Altesame 12 mans en ’n vrou is in hegtenis geneem en na die selle by die nabygeleë Brixton-polisiekantoor geneem.
Op die video kan gesien word hoe ’n kliënt uit die restaurant se
toilet kom, klaarblyklik onbewus daarvan dat die polisie in die
restaurant is en almal beveel het om op die vloer te sit.
Een polisiebeampte gryp hom aan die arm terwyl ’n ander een
vorentoe storm en hom deur die gesig klap. Die hou laat hom op die vloer
neerval.
Intussen kom ’n derde polisielid by en dié skop die man herhaaldelik in die maag, ribbe en gesig.
Toe die drie polisielede hom uiteindelik los, probeer hy om op ’n stoel te sit.
Maar nóg ’n polisielid ruk hom met stoel en al om.
“Nie een van die kliënte het hulle teen die polisie verset nie,” sê Coetzee.
“Hulle was te geskok en het gedoen wat die polisie beveel het.”
Teen 15:00 gister het talle mense steeds buite die
Brixton-polisiekantoor gewag dat hul familielede en vriende uit die
selle vrygelaat word.
Die 12 aangehoudenes is van dwarsboming van die gereg aangekla voordat borgtog van R500 elk uiteindelik aan hulle toegestaan is.
Mev. Carmen Benjamin van Pretoria is die vrou wat saam met die 12 mans gearresteer is.
Sy is nie aangekla nie, maar haar man, Clint, is wel.
“Ek was saam met my man en ander mans in die een polisievoertuig.
Niemand het hulle verset toe ons in die voertuig gelaai is nie. Almal
was te bang en geskok om iets te kon doen,” sê sy.
Ao. Lorraine van Emmerik, polisiewoordvoerder, sê die polisie het
’n klopjag in die restaurant uitgevoer omdat die kuierplek strydig met
die drankwet ná 02:00 steeds oop was.
“Die polisie wou die plek toemaak, maar van die mense het hulle verhinder om hul plig in die restaurant uit te voer.”
Van Emmerik wou nie op die inhoud van die videomateriaal kommentaar lewer nie.
“Ons het dit nie gesien nie. As daar videomateriaal is, moet die
eienaar dit na ons toe bring sodat ons daarna kan kyk en ondersoek
instel,” het sy gesê.
- Rapport