Premies wat vrou voortrek onwettig
2012-09-01 23:54
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Christine van der Westhuizen
In Europa is “vroue-vriendelike” versekering binnekort onwettig.
Maar in Suid-Afrika sal dié bepaling met hand en tand beveg word, belowe Robyn Farrell, besturende direkteur van First for Women-versekeringsgroep, een van die plaaslike versekeraars wat vroue met goedkoper premies begunstig.
Die Europese hooggeregshof het in Maart 2011 beslis dis diskriminerend om die verskille tussen mans en vroue as ’n risikobepaling te gebruik om premies vir motor-, mediese en pensioenskemas vas te stel.
Van Desember sal versekeraars daar moet ophou om premies te grond op die verskille tussen mans en vroue.
Die Vereniging vir Britse Versekeraars skat vroue onder 26 jaar kan ’n styging van 25% in premies verwag, terwyl mans tot 10% minder kan opdok.
“Daar word bespiegel of dieselfde bepaling in Suid-Afrika toegepas sal word,” sê Farrell.
“Hierdie bepaling beteken vroue sal op die ou end die meer waaghalsige bestuurstyl van mans subsidieer en dít is diskriminasie.
“Dit is bewys dat vroue ’n laer versekeringsrisiko as mans inhou. Vroue is in minder ongelukke betrokke en die gemiddelde herstelkoste van ’n motor wat in ’n ongeluk was, is ook minder as ’n vrou agter die stuur was.”
In Suid-Afrika is die gemiddelde eis deur ’n 18-jarige man R11 997, terwyl dit vir ’n 18-jarige vrou R8 668 is. In Brittanje is dit gemiddeld £4 400 (R58 600) vir 18-jarige mans teenoor £2 700 (R36 000) vir 18-jarige vroue.