Pyn of padvalk? Dit is steeds g’n verskoning om hiér te parkeer
2012-07-07 23:31
Dit maak nie saak hoe erg jou pyn of skeet is nie. Dit maak ook nie saak hoe oud en kromgetrek jy is nie.
As jy nie in ’n rolstoel is nie, mag jy nie in parkeerruimtes vir rolstoelgebruikers stilhou nie.
As jy ’n metropolisielid is wat moet sorg dat ánder mense die reëls nakom, mag jy veral nie daar stilhou nie!
So het Ari Seirlis, uitvoerende hoof van die KwadPara-vereniging van Suid-Afrika (Qasa), gesê nadat ’n patrollievoertuig van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) verlede naweek betrap is op ’n parkeerplek vir gestremdes by die Festival Mall in Kempton Park.
Gerhard Swarts (23), ’n honneursstudent in sport- en rekreasiebestuur en inwoner van die Kiaat-manskoshuis by die Universiteit van Pretoria, het sy bestuurder gevra om die polisiemotor vas te parkeer.
Swarts het ’n vrou in die passasiersitplek gevra of ’n gestremde persoon in die voertuig ry.
“Sy het dadelik nee geantwoord,” sê hy.
Toe die bestuurder later aankom, het sy die deur glo in Swarts se gesig toegeklap, die ruit opgedraai en anderpad gekyk terwyl hy met haar probeer praat het.
“Ek het eers met my vinger teen die ruit geklop. Later het ek met my arm teen die deur geslaan. Toe het ek met my rolstoel teen die voertuig begin vasry. Ek wou net hul aandag hê.”
Omstanders het glo begin saamdrom, “maar die vroue het net aangehou lag”.
Swarts sê hy is nou keelvol vir mense wat op dié parkeerplekke stilhou.
“Mense wil nooit erken hulle is verkeerd nie.”
Volgens Seirlis, ’n kampvegter vir die regte van gestremdes, bepaal wetgewing net iemand met ’n geakkrediteerde rolstoelskyfie mag op die spesiale parkeerplekke stilhou.
Die ruimtes is spesiaal wyer sodat rolstoelgebruikers soos Swarts toegang tot hul motors kan kry.
“Daar is organisasies wat toegeeflik is en skyfies uitreik aan mense wat gestremd is, maar nie in rolstoele is nie.
“Qasa is die kernorganisasie in die land vir mense in rolstoele en ons sal nié toegeeflik wees nie.
“Daardie areas is net vir mense in rolstoele. Nie eens vir iemand met ’n pyn of ’n skeet nie. Selfs nie eens vir ou mense wat nog self kan loop nie. Nét vir rolstoele,” het Seirlis gesê.
Volgens supt. Wilfred Kgasago van die EMPD het ’n ooggetuie na vore gekom wat die onderonsie afgeneem het.
“Ons het reeds verklarings afgeneem by die twee lede wat in die voertuig was,” sê hy. Optrede sal volgens hom beslis volg.