R14 m. gesteel uit boedels; Absa gaan hoes
2012-12-22 23:57
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Vania van der Heever in Johannesburg
’n Gautengse ma is afgedank by Absa nadat dit aan die lig gekom het sy het vermoedelik R14 miljoen uit die boedels van van die bank se kliënte gesteel.
Nou belowe dié bankreus hy sal elkeen van Ursula Denise Ellington se vermeende slagoffers opspoor – en vergoed vir die erfgeld wat hulle nooit ontvang het nie.
Ellington het jare lank boedels by die Absa-trusttak in Kempton Park hanteer en insae gehad in wie die begunstigdes is en hoeveel hulle veronderstel is om te erf.
Sy was ook daarvoor verantwoordelik dat skuldeisers uit die boedel betaal word voordat familielede en ander begunstigdes voordeel daaruit kon trek.
Ellington het na bewering self maatskappye geregistreer wat dan eise teen die boedels ingestel het en dié geld afgetrek voordat sy die boedels afgehandel het.
Dit het sy glo gedoen nog voordat begunstigdes van die erflating in kennis gestel is.
Die eerste geld het in 2005 weggeraak, maar ’n woordvoerder van die bank het aan Rapport gesê Absa het eers in Augustus vanjaar van die beweerde diefstal bewus geraak. Die woordvoerder wou nie geïdentifiseer word nie.
Volgens Absa is Ellington geskors en afgedank ná ’n interne ondersoek, maar geen klag is al by die polisie ingedien nie. Die polisie is wel oor die bewerings teen Ellington “ingelig”.
Ellington het geweier om aan Rapport kommentaar te lewer.
“Wat moet ek oor die kwessie sê?” het sy verklaar. “Julle sal Absa moet bel as julle inligting soek.”
Sy woon in ’n gerieflike aftree-oord in Kempton Park.
Absa het onderneem om elkeen van die slagoffers op te spoor en te vergoed. “Ons duld nie bedrog nie,” het die woordvoerder gesê.
“Ons regspan versamel nog inligting om ons saak sterker te maak.”