Regse skok
2010-06-26 23:02
JACQUES PAUW IN JOHANNESBURG
Mnr. Gustav Müller, leier van die verregse Suidlanders-beweging, is ’n bankrot sakeman wat net wittes se vrese uitbuit om geld te maak.
Die Suidlanders – wat verkondig dat wittes uitgemoor gaan word in die “nag van die lang messe” – is boonop só vrot van die spioene van die Suid-Afrikaanse polisie dat die organisasie “om alle praktiese redes ’n polisie-front is”.
Dit is die mening van ’n voormalige vertroueling van Müller en selferkende polisie-agent, mnr. Danie Odendaal, wat voorts onthul dat hy so onlangs as 2006 die opsie van ’n ras-oorlog met Müller gedebatteer het. Odendaal het selfs die moontlikheid om pres. Jacob Zuma te vermoor met Müller bespreek.
En in ’n bisarre voorval is Müller glo tydens ’n polisieklopjag saam met nog ’n man en ’n vrou in dieselfde bed betrap. Al drie was kaal.
Odendaal – wat glo al vyftien jaar vir misdaadintelligensie werk en nou in Ierland woon – het aan Rapport bevestig hy het die Suidlanders geïnfiltreer in opdrag van sy hanteerder, ’n polisie-kolonel. Hy sê die polisie bestee miljoene rande om ’n netwerk van informante binne die organisasie te onderhou.
Rapport is in besit van verslae oor die Suidlanders wat Odendaal aan sy hanteerders oorhandig het.
Müller het aan Rapport erken dat hy en Odendaal goeie vriende was, hoewel hy nooit vermoed het dat Odendaal vir die polisie werk nie.
“Dis gewoonlik die een wat die naaste aan jou is wat jou die seerste gaan byt,” het hy gesê.
Müller het die laaste jare landwyd gereis om ’n noodontvlugtingsplan vir wittes bekend te stel. Hy verkondig ’n slagting van wittes sodra oudpres. Nelson Mandela sterf.
Odendaal sê:
- Hy is in 2002 deur sy hanteerder opdrag gegee om Müller te bevriend. Die polisie wou Suidland-Aksie gebruik om inligting oor regses te versamel.
- Müller is gekies “omdat hy so bekend was in daai sirkels. Simpatiseerders se name, karre se registrasienommers, foto’s?… ek het alles deurgegee.”
- Meer as 200 betaalde polisie-informante is in die Suidlanders geplant. “Geld was nie ’n kwessie nie.”
- Hy en Müller het stedelike terreur beplan en wapens versteek op ’n plaas in Mpumalanga.
- Müller het “geval” vir sy (Odendaal se) voorstel om Zuma dood te skiet.
- Hy het die polisie se geld gebruik om Müller en sy gesin te onderhou. “R10 000 hier, R4 000 daar.”
Müller het aan Rapport gesê “dat dit so mag wees” dat daar 200 of meer agente in sy organisasie is.
Hy beweer die Suidlanders het hul eie informante binne die intelligensie-gemeenskap: “Daar’s nie ’n plek waar ek nie mense het nie.”
Müller ontken Odendaal het ’n leiersrol in die Suidlanders gespeel of insae in strategie gehad.
“Dat hy my geïnfiltreer het, ja, dan maak dinge sin.”
Maar die Gautengse perde-afrigter mnr. Barend Botes, gewese vriend van Odendaal en Müller, sê die twee het mekaar in 2004 en 2005 byna daagliks gesien.
“Alles wat uit Gustav se mond gekom het, is deur Danie geplant.”
Müller verwerp bewerings in Odendaal se verslae aan sy hanteerder oor wapenopslagplekke en ’n opstand.
“Die informant… skryf sy verslae so dat die hanteerder hom gaan betaal. In ’n stadium wou hy (Odendaal) vir Zuma gaan skiet… maar ek val nie vir sulke goed nie.”
Müller skryf in ’n e-pos in November 2008 aan Odendaal en sy vrou, Lettie: “Suid-Afrika voel leeg sonder julle, dis nou al lank dat ek die stryd alleen moet voer.”
Rapport is ook in besit van dokumente wat Odendaal aan Müller gestuur het waarin hy burgeroorlog bepleit. Müller verseker Odendaal in Desember 2008: “Ek is wel gereed om, wanneer die tyd deur die Hoër Hand beskik, voor duisende te staan en in Krag op te tree… Ek sal jou eendag hoof van die polisie maak – ha ha ha!”
Kliek hier, hier en hier om nog nuwe onthullings deur Rapport oor die Suidlanders te lees.