Raaisel wie troepe oproep
2012-09-16 00:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Daar heers verwarring oor die ontplooiing van sowat 150 soldate gister by die Marikana-myn in Noordwes.
Die soldate het gistermiddag aangekom, maar niemand weet wie die ontplooiing gemagtig het nie.
Ingevolge die Grondwet mag die president die weermag net ontplooi nadat hy spesifieke redes aan die parlement verskaf het. Hy het egter nie die parlement se toestemming nodig nie.
Mac Maharaj, pres. Jacob Zuma se woordvoerder, het gister gesê die besluit om soldate te ontplooi was “operasioneel” en dus gehanteer deur Jeff Radebe, minister van justisie.
Mthunzi Mhaga, justisiewoordvoerder, het dié idee verwerp en gesê dit is die president wat soldate moet ontplooi.
Brig.genl. Xolani Mabanga, weermagwoordvoerder, het gesê soldate is van verskillende eenhede opgeroep.
Die polisie was meer omsigtig: “Die polisiediens het geteikende operasies regoor die land, asook by Marikana. Ek weet niks van die weermag nie,” het brig. Phuti Setati, polisiewoorvoerder, aan Rapport gesê.
“Om julle te vertel dat dié operasies gebeur, sal die doel van die operasie ondermyn. Mense sal dan weet waar die polisie is.”