Radio Houtstok-man bedank
2012-03-17 23:52
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Leandi Claasen in Kaapstad
Die omstrede Kaapse radioman mnr. Louis Baartman het gister die tuig neergelê.
Baartman, stigter van Radio Houtstok, het as bestuurder van dié radiostasie bedank.
Sy bedanking kom ná ’n aansoek wat gister in die Kaapse hooggeregshof gebring is om ook een van die stasie se direkteure, me. Janine Stratford-Burke, Baartman se dogter, van haar pligte te onthef.
Rapport het verlede week berig Baartman het ’n naweek agter tralies deurgebring weens sy betrokkenheid by ’n aanval op ’n gewilde platejoggie van ’n ander gemeenskapsradiostasie.
Baartman is in hegtenis geneem op aanklagte van sameswering om ’n misdaad te pleeg.
Sy inhegtenisneming het gekom sowat ’n week nadat een van Bok Radio se platejoggies, mnr. Heinrich du Plooy (37), deur twee mans aangeval is.
Baartman het op sy Facebook-blad gesê hy het bedank “om stabiliteit vir die radiostasie te verseker” en om “aanvalle” op Radio Houtstok af te weer.
Hy sal deur Radio Houtstok gekontrakteer word om met advertensies, borgskappe, verkope en bemarking te help.
Hy sal ook voortaan die ontbytprogram en naweke sy country-musiekprogram op Radio Houtstok aanbied.
Die aanstelling van ’n waarnemende stasiebestuurder vir Radio Houtstok sal binnekort bekend gemaak word.