Radioman se laaste 48 uur
2012-01-28 23:10
Julian Jansen in Kaapstad
Sy stem was dié van ’n lewensmoeë mens. Sy oproep saaklik. Hy en Christa gaan die volgende oggend selfmoord pleeg. Waar en waaroor wou hy nie sê nie.
“Ek vertrou net vir jou. Ek sien die opskrif in Rapport: My Jesus is doodgemaak. Met ons dood sal daar dalk veranderinge by Radiokansel kom.
“Als is verby, Julian, daar’s nie meer ’n Here nie.”
Dit was voorverlede Vrydagoggend 09:54. Josie Raath, ’n omroeper van Radiokansel, was die beller. Christa (Petersen-Johnson) is die dogter van Radiokansel se uitvoerende hoof, dr. Roelf Petersen.
Vir die volgende 48 uur het dié Rapport-verslaggewer ’n selfmoordtragedie probeer keer. Dr. Petersen is laat weet van sy dogter se pakt met Raath.
“Sy is redelik veilig...” het Petersen Vrydagmiddag gerusstellend gesê.
Hy het gesê dat sy saam met Raath, wat aan bipolêre gemoedsversteuring gely het, in sy motor was en hom probeer moed inpraat het. Dat die stasiepersoneel baie bekommerd oor hom was omdat dit lyk of hy moed opgegee het.
Hy is in sy motor op pad Kaap toe, het Raath met die tweede oproep gesê. Hy wou Rapport in die Strand kom sien. En dan selfmoord pleeg.
Toe sê hy weer die pad is baie lank.
Saterdag om 13:04 bel hy en sê hy ry nie meer Kaap toe nie. Hy het verder gepraat oor hoe mense hom en die bipolêre siekte, die swart siekte, nie verstaan nie.
Hy het Irene van Wyk voor haar dood verstaan, met Johannes Kerkorrel gesels, Jan Blohm verstaan.
Hy (voorheen ’n pastoor op die Kaapse Vlakte) kon mense se lewe help verander, en in Rashied Staggie (’n gewese Kaapse bendeleier) se oë het hy meer liefde gesien.
Nou wil mense vir hom sê: Wag ek bid gou vir jou, hoor. Selfs by die werk.
“Jy werk vir ’n tap op die skouer. Ek wil graag hoor dat jy goed gedoen het. Jy kry heeltyd teenstand.
“Mense word aangestel in poste bo jou terwyl jy jare se ondervinding het.
“God sê hy sal nie ’n geknakte riet breek nie.
“Die mens oorheers en breek die riet.
“Almal wil net hê...
“In die oë van die straatkind het ek meer waardering gesien.”
Later: “My uurglas het uitgeloop. God het bietjie vir my gejok. Radiokansel het Jesus in my doodgemaak.
“Tot hoe laat werk jy?” het hy skielik gevra.
“Agtuur...” was my antwoord. Aarselend.
“Oukei dan gaan ek dit seweuur doen, dan bel ek jou.
“Ek het alles in die kar om te doen wat ek wil doen.”
Om 13:16 is die gesprek beëindig.
Hierna is Rapport se oproepe onbeantwoord gelaat.
Dae later hoor jy Raath se selfmoordpad het in ’n gastehuis in Margate geëindig.
Hier het hy ’n handvol pille geneem, die telefoonnommers van twee vriendinne, mee. Ina Snyman en Reva Schoeman, vir ’n werker gegee en ’n laaste SMS aan sy gewese vriendin, Katryn le Roux, gestuur.
Hierin sê hy sy moenie haarself blameer nie. Dis nie haar skuld nie.
Raath is die volgende dag om 09:45 in sy kamer gevind.
Volgens sy dogter Rhonwyn (18) sou Raath en Petersen-Johnson in Koster saam selfmoord pleeg.
Rhonwyn sê haar pa het nooit oor selfmoord met haar gepraat nie, “want hy weet ek sou hom daaruit kon praat.
“Hy is in ’n beter plek, waar hy niks meer pyn en bekommernisse het nie.
“My pa was ’n baie goeie man, maar hy het nie goeie besluite geneem nie.”
By navraag wou Petersen slegs sê sy dogter is “erg getraumatiseer en ontvang berading”.
Op die Radiokansel-webtuiste word in ’n mediaverklaring klagtes wat Raath teen die stasie geopper het – soos nepotisme, onnodige oorsese reise, vergaderings sonder gebede en die wegneem van radioprogramme – breedvoerig weerlê.
* Raath se roudiens is oormôre om 10:00 in die Lewende Woord-gemeente, Brummeriaweg 62, Brummeria, Pretoria.
Kenmerke van bipolêre stoornis
Bipolêre stoornis word gekenmerk deur herhaalde fases van depressie en dan weer ’n gemoedstemming wat bestaan uit verhoogde energievlakke en aktiwiteite waartydens lyers te min slaap, onophoudelik praat en onverant-woordelik optree, soos om te veel geld uit te gee.
Lyers ervaar gewoonlik ook probleme om gewone aktiwiteite uit te voer, asook om interpersoonlike verhoudings te handhaaf.
Dis ’n chroniese siekte met fases van remissie en dan weer terugslae.
Dit word beskou as een van die grootse psigiese stoornisse ter wêreld.
Bron: Wêreldgesondheidsorganisasie (www.who.int)