Ras-kaart tref welsyn
2012-11-19 06:49
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Kerke en liefdadigheidsorganisasies wat wit mense of buitelanders help, kan weens voorgestelde nuwe kodes vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) miljoene rande aan skenkings kwyt wees.
Die kodes kan selfs die voortbestaan bedreig van instellings wat meestal swart mense bystaan, sê die bekende bystanddiens Childline, wat kinders meestal per telefoon help en “nie ras sien nie”.
Paniek heers nou onder nie-regeringsorganisasies en aktiviste probeer die kodes deur ’n nasionale veldtog stuit.
Die voorgenome SEB-kodes is vroeër deur Rob Davies, minister van handel en nywerheid, bekend gemaak en die publiek kan tot 2 Desember daarop kommentaar lewer.
Die kodes bepaal die bydraes van maatskappye wat skenkings aan liefdadigheidsorganisasies maak, sal nét as SEB tel as die liefdadigheidsorganisasie net swart Suid-Afrikaners met die skenkings gehelp het. Swart mense is volgens die jongste sensussyfers steeds verreweg die armste in die land.
Ingevolge die huidige SEB-kodes moet 75% van bevoordeeldes swart wees. As minder as 75% van die bevoordeeldes swart is, word maatskappye se maatskaplik-ekonomiese ontwikkelingsbydraes of -skenkings proporsioneel vir SEB-punte bereken.
Maatskappye moet die SEB-kodes toepas en streef na hoë SEB-punte om hulle in staat te stel om sake met enige staatsbeheerde instellings of -departement te kan doen.
Dr. Botha van Aarde, uitvoerende beampte van die NG Kerk se nasionale welsynsnetwerk, wat tot 1,3?miljoen hulpbehoewendes bedien, sê tussen 80% en 90% van dié mense is swart.
“Die feit dat ons wit mense ook help, gaan nou veroorsaak dat skenkers nie SEB-punte kan verdien nie. Dít terwyl die departement van maatskaplike ontwikkeling nie-regeringsorganisasies aan wie hulle skenkings maak, dwing om die bevolkingsamestelling van hul gebied te weerspieël. Dít is strydig met wat handel en nywerheid nou wil hê.
“Selfs ons swart hulpbehoewendes gaan benadeel word omdat maatskappye eerder geld gaan skenk aan organisasies waar hulle beter SEB-punte kan verdien.”
Joan van Niekerk, nasionale koördineerder van Childline, is erg bekommerd.
“Maatskappye gaan doodeenvoudig net finansier waar hulle die meeste SEB-punte kan kry.
“Ons handel telefonies met kinders en sien nie ras nie. Dit is verregaande. Dit gaan die voortbestaan bedreig van nie-
regeringsorganisasies wat álmal wil help.”
Childline help elke jaar meer as 1,5?miljoen kinders van alle rasse deur sy inbelsentrums in elke provinsie, sowel as sowat 100?000 kinders deur sy skool-uitreikprogramme en 10?000 kinders by sy terapiesentrums, sê Van Niekerk.
Die Solidariteit-beweging wat Solidariteit, AfriForum en Helpende Hand insluit, het Vrydag die veldtog “Stop Rob” van stapel gestuur om die voorgestelde SEB-kodes te keer.
Dr. Dirk Hermann, adjunkhoof van Solidariteit, sê daar is geen regverdiging daarvoor om ontwikkelingshulp aan behoeftiges op grond van ras te bepaal nie. “Om te bepaal dat 100% van die bevoordeeldes swart moet wees, is 100% verkeerd.
“Indien net 1% van die kindertjies in ’n kinderhuis wit is, sal die 99% swart kindertjies ook benadeel word.
“Die kodes ontmoedig daarom enige vorm van integrasie.”
Die Solidariteit-beweging wil duisende besware aan Davies stuur en gaan Facebook, Twitter, e-pos-kettingbriewe, SMS’e en webwerwe inspan om mense te mobiliseer.
Protes kan ook aangeteken word deur die woord “Rob” na 34388 te SMS, sê Hermann.
Liezl van der Merwe, IVP-woordvoerder oor vroue, kinders en mense met gestremdhede, het gister gesê Thandi Tobias-Pokolo, adjunkminister van handel en nywerheid, het die afgelope week in die parlement die eintlike doel met die SEB-wetgewing bevestig.
“(Tobias-Pokolo) het my herinner dat SEB voorheen benadeelde Suid-Afrikaners bemagtig het, maar sy kon haar nie keer nie om by te voeg dat die Afrikaners dit ook gedoen het en dat ek moet ophou jaloers wees op die swartbeheerde regering.”
Sidwell Medupe, departementele woordvoerder, ontken sekere liefdadigheidsorganisasies sal deur die nuwe SEB-kodes benadeel word. “Die voorgestelde SEB-kodes gaan eerder liefdadigheidsorganisasies wat die bydraes ontvang, aanmoedig om te verseker dat hul begunstigdes verteenwoordigend van die samelewing is.”
Wade van Rooyen, besturende direkteur van Grant Thornton, ’n SEB-konsultasiefirma, sê die wysigings “gaan liefdadigheidsorganisasies dwing om wit behoeftiges uit te skop”.