Rassisme-ondersoek by Virgin Active
2012-02-08 10:31
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Richard Branson, stigter van die Virgin-groep, het sy stem dik gemaak oor ’n rassevoorval in die Virgin Active-gimnasium in Morningside, Sandton.
“Ons duld geen vorm van diskriminasie by Virgin nie – veral nie rassisme nie,” het hy op Virgin Active SA se Facebook-blad geskryf.
Dit is gedoen nadat me. Liz Hleza (51) luidens ’n berig in The Star op Oujaarsdag in ’n spinklas deur ’n ander gimnasiumlid beledig is.
Volgens Hleza het die man kwaad geword omdat sy “yebo” geskree het uit geesdrif vir die musiek en die oefening.
“Hy het gesê ek moet stilbly en het aanhou sê: ‘This bloody k****r, you k****r’,” het Hleza aan The Star gesê.
Branson het gesê daar was Saterdag ’n vergadering tussen die twee lede waartydens die man Hleza om verskoning gevra het.
Mnr. Ross Faragher-Thomas, besturende direkteur van Virgin Active SA, het gesê lede is al geskors as hulle nie na wens opgetree het nie.
Hy sal die feite van dié saak self nagaan en besluit oor optrede.
Independent Online het gister berig daar was glo ook ’n rassistiese voorval by Virgin Active se gimnasium in Sunninghill.
Lesley Mofokeng het luidens die berig ’n klag by die polisie ingedien.
Mofokeng, ’n joernalis van City Press, het op dié koerant se webwerf vertel ’n middeljarige wit man het eers vir ’n swart vrou op een van die apparate gesê om daarvan af te klim en toe na hom (Mofokeng) gedraai en gesê: “Julle swart mense wil alles vat ... Jy is ’n boy ... jy is nutteloos ... jy is ’n f****r.”
Virgin Active het gesê ’n vergadering tussen die betrokke lede, die klubbestuurder en die streekbestuurder sal vanoggend gehou word.
* Lees ook hier en hier.
* Volg Rapport op Twitter
en Facebook